SOUTH AFRICA

BESTUUR IN HOOG PRODUSERENDE MELKKUDDES

Dr Chris van Dijk

Tydens ‘n onlangse bespreking met verskeie melkprodusente is die vraag gevra: “Watter bestuur word toegepas deur die topprodusente”?

Die vraag is nie so maklik om te beantwoord nie, maar ek deel graag die volgende met u vanuit evaluasies van topproduserende kuddes waarby ek betrokke is.

Die volgende speel op een of ander manier ‘n rol in die uiteindelike melkproduksie van kuddes en kan ook as hulpmiddel gebruik word in die identifikasie van moontlike probleemareas op ‘n melkplaas wat die produksie negatief mag beïnvloed: Behuising en ander fasiliteite; melksisteem en melkprosedures; voeding; bestuur in die melkstal; voeding en bestuur van die pasgebore kalf; voerbyvoegings vir die verse en koeie; bestuurspraktyke soos groepering van verse en koeie, rekenaargebruik, hitteobservasie, mastitis beheer en betrokkenheid by Melkaantekening asook KI en metodes van bulseleksie.

BEHUISING EN ANDER FASILITEITE

Sogenaamde “free stall barns” word geassosieer met die hoogste produksie teenoor geen of swak behuising waar daar byvoorbeeld geen beskerming teen die natuurlike elemente is nie wat met van die laer produserende kuddes geassosieer word.

MELKSISTEEM EN MELKPROSEDURES

Die tipe melkstal blyk nie ‘n te groot invloed op produksie uit te oefen nie. Die aantal melkeenhede, outomatiese afhalers en selfs die aantal melkers per punt het ook geen betekenisvolle invloed op die uiteindelike produksie nie. Die teenwoordigheid van die produsent of sy vrou self in die stal tydens melking het wel ‘n positiewe invloed op produksie getoon. Laasgenoemde mag wees weens die feit dat hierdie persone meer tyd aan selfs klein dingetjies gee wat uiteindelik ‘n positiewe effek op produksie kan uitoefen.

VOEDING

Korrekte voeding is en bly seker een van die belangrikste redes vir sukses (hoë produksies) in enige melkery. Kuddes waar ‘n korrek gebalanseerde TGR gevoer word, produseer oor die algemeen meer melk as kuddes wat vanaf die veld of aangeplante weidings gevoer word. Tuisgemengde rantsoene blyk ook ‘n laer produksie as kommersïele rantsoene te hê. Waar ruvoere onderdak op sement  geberg word teenoor ruvoere wat in wind en weer op die grond geberg word is ook hoër produksies waargeneem.

VOEDING EN BESTUUR VAN DIE PASGEBORE KALF

Die tydperk na kalwing, frekwensie van voedings en tipe kolostrum (vars of gefermenteer) aan die pasgebore kalf gevoer het geen statisties betekenisvolle invloed op die melkopbrengs van die koeie getoon nie. Die hoeveelheid kolostrum gevoer (meer as 1.36 liter) blyk wel ‘n positiewe rol te speel in opvolgende produksies

VOERBYVOEGINGS

Die voer van brouersgraan en heel katoensaad word geassosieer met hoër produksies. Sojaboonmeel as ‘n voer byvoeging het ‘n matige afname in produksie getoon. Van al die byvoegings word die gebruik van buffers in die meeste gevalle geassosieer met hoër produksies.

BESTUURSPRAKTYKE

Dit blyk dat die groepering van diere volgens ouderdomsgroepe in die meeste kuddes tot hoër produksies aanleiding gee. Die gebruik van ‘n rekenaar as bestuurshulpmiddel het nie noodwendig tot hoër produksies aanleiding gegee nie, maar die produsente wat nie tenvolle by ‘n volledig gestruktueerde kuddeprogram betrokke is nie se gemiddelde produksies was defenitief laer as die kuddes waar ‘n volledige program gevolg word. Kuddes waar hulpmiddels vir hitteobservasie gebruik word blyk ook in die lang duur hoër produksies as ander kuddes te hê.

Kuddes wat nie by ‘n beplande mastitisbeheerskema betrokke is nie se gemiddelde produksies is oor die algemeen laer as kuddes wat wel by so ‘n skema betrokke is. Produsente wat van ‘n naspeendoop gebruik maak se produksies was oor die algemeen hoër as produsente wat nie daarvan gebruik maak nie

Kuddes wat by die melkaantekeningskema betrokke is se gemiddelde produksie is ook oor die algemeen hoër as kuddes wat nie daarby betrokke is nie

KI EN BULSELEKSIE

Kuddes waar slegs van KI gebruik gemaak word se produksies is oor die algemeen hoër as kuddes waar KI net gedeeltelik of glad nie toegepas word nie.

Die aspekte hierbo bespreek mag as hulpmiddel dien en dalk u aandag vestig op een of ander bestuursaspek of omgewingsfaktor wat dalk deur dit reg te stel of aan te pas tot daardie ekstra paar liter in die tenk mag lei.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.