SOUTH AFRICA

Biosekuriteit reeks – Deel 5

Immunisasie en Verhoogde Kuddeweerstand
Dr Chris van Dijk

Die hoofdoelwit van ‘n biosekuriteitsprogram in ‘n melkery is om die gesondheid van die kudde te beskerm en daarmee die produksie en wins van die kudde te verhoog deur die lewering van veilige en hoë kwaliteit melk en vleis aan die eindverbruiker.

Geen ander meganisme in ‘n biosekuriteitsprogram is meer effektief as ‘n korrekte immunisasie of inentingsprogram nie. Voor ons die aspek bespreek moet die terme immunisasie en inenting eers gedefinieer word. Enting is die proses om ‘n biologiese produk (entstof) in ‘n dier in te spuit. Immunisasie daarenteen is die proses van inenting plus die daarstel van ‘n beskermende immuunreaksie. Korrekte immunisasie sal ook verseker dat die imuunstelsel ‘n “geheue” ten opsigte van ‘n spesifieke siekte ontwikkel wat weer vinnig geaktiveer kan word sodra die dier aan die werklike siekte blootgestel word.  Heeltemal te veel inentings vind  plaas sonder die daarstel van ‘n beskermende imuunreaksie.

Die gebruik van entstowwe is wel bekend aan meeste melkprodusente maar die hoe, wat, waar en wanneer van immunisasieprogramme is baie keer verwarrend. Aangesien die gebruik van entstowwe die basis van ‘n kuddegesondheidsprogram vorm is dit noodsaaklik dat ons moet weet en verstaan wat ons van entstowwe kan verwag en wat ons nie kan verwag nie.

VERHOGING VAN DIE KUDDEWEERSTAND

Deur ‘n dier te immuniseer poog ons om die weerstandsvlakke nie net van die enkel dier nie maar veral van die kudde te verhoog. Met immunisasie word die immuunsisteem aan die nagebootse siekte (entstof) blootgestel – hoe beter die entstof is hoe nader aan die werklike siekte is die nabootsing en hoe beter sal die reaksie van die immuunsisteem wees.

Bakteriese- teenoor virusinfeksies

Bakteriese siektes veroorsaak siekte hoofsaaklik deur die produksie van toksiene of gifstowwe. Bakterieë is lewende organismes wat gewoonlik buite die selle van die dier se liggaam leef, reproduseer en vermeerder.

Virussiektes daarteenoor veroorsaak weer siekte deurdat die virusse selle in die liggaam penetreer en dan hierdie selle vernietig. Tydens hierdie proses vermeerder die virus ook. Aangesien die virus binne in die sel kan “wegkruip” is dit baie keer onmoontlik vir die dier se immuunsisteem om hierdie virusse te identifiseer en vernietig.

Tipes entstowwe

Verskeie tipes entstowwe bestaan vir beide virusse en bakterieë. Elke entstof het sy eie besonderse voordele en selfs nadele. Die vlak van immuniteit en die duur van die immuniteit sal deels bepaal word deur die korrekte keuse en toediening met betrekking tot entstowwe.

Virusentstowwe

Virusentstowwe kan verdeel word in dooie of geïnaktiveerde entstowwe en geattenueerde of verswakte lewende entstowwe. Die geïnaktiveerde entstowwe sal die hele dooie virus of gedeeltes daarvan bevat en hierdie virusse kan nie die dier se selle binnedring, besmet of daarin repliseer nie. Die inaktiveringsproses maak hierdie entstowwe baie veilig maar gee ook aanleiding tot verlaagde effektiwiteit as dit met lewende virusentstowwe vergelyk word, aangesien dit ‘n verlaagde immuunreaksie tot gevolg het. Aangesien die dooie virus nie die selle binnedring nie “verkry” die immuunsisteem ‘n onvolledige prentjie van die virus en sy werking binne in die sel. ‘n Goeie lokale reaksie, op die slymvliese byvoorbeeld word verkry asook in die bloedstroom (humorale immuniteit) maar ‘n swak reaksie in die selle self (selbemiddelde immuniteit). As ‘n reël sal alle dooie virusentstowwe ‘n skraagdosis na die eerste immunisasie benodig en dan gereeld op ‘n jaarlikse of selfs op ‘n korter basis. Veral die skraagdosis na die eerste immunisasie word baie gekeer nie gedoen nie en die dier is gevolglik amper slegter af as voor die inenting.

Attenueerde virusentstowwe of soos meer algemeen bekend, gemodifiseerde lewende virusentstowwe (MLV) bevat wel lewende virus fraksies en hulle sal wel die selle binnedring, repliseer en die siekte naboots. ‘n Goeie MLV entstof sal die liggaam die geleentheid bied om presies te “sien” hoe die virus werk en die liggaam kan dus op alle vlakke (slymvliese, in die bloed en in die selle) voorbereiding tref vir ‘n latere blootstelling aan die werklike veldstam of siekteveroorsakende stam van die virus. Die immuniteit verkry na die gebruik van ‘n MLV entstof is dus baie beter en die immuniteit duur ook baie langer as met ‘n dooie virus entstof. MLV entstowwe mag in sommige gevalle ‘n matige temperatuur reaksie in die dier veroorsaak en mag dus nie veilig of goedgekeur wees vir gebruik in dragtige diere nie. LEES ALLE ENTSTOF ETIKETTE DEEGLIK VOOR GEBRUIK!!

Bakteriese Entstowwe

Bakteriese entstowwe wat die organisme self bevat staan bekend as ‘n bakterien. Meeste bakteriene is of geïnaktiveerd of dood. Een uitsondering is brusellose wat ‘n lewende bakterien is. Leptospirose is ‘n voorbeeld van ‘n dooie bakterien en soos met die dooie virusentstowwe is ‘n skraagdosis ook gewoonlik hier nodig behalwe met sekere nuwe generasie bakteriese entstowwe.

Toksoïde is bakteriese entstowwe wat die geïnaktiveerde bakteriese toksien wat die siekte en/of skade in die dier sal veroorsaak bevat. Baie bakteriese entstowwe is ‘n kombinasies van ‘n bakterien en toksoïd. Hierdie entstowwe stimuleer die immuunsisteem om teen beide die bakterieë en die toksien teenliggaampies te vervaardig.

Entstof: Sterkpunte en Swakpunte

Elke entstof het sy eie sterk- en swakpunte en een spesifieke entstof mag nie geskik wees vir alle omstandighede nie. U veearts kan u verder hieroor inlig maar dit is ook u plig om uself bewus te maak van alle voor- en nadele van beskikbare entstowwe.

Entstof mislukkings

Entstowwe alleen op hulle eie moet nie gesien word as die oplossing vir alle probleme op ‘n plaas nie. Baie keer word die uitbreek van ‘n siekte op die entstof geblameer. ‘n Korrek saamgestelde en toegepaste biosekuriteitsprogram waarin die vlak van blootstelling aan siektes baie aandag geniet is essensieël in die bekamping van siektes op die plaas.

Entstowwe is net een van die hulpmiddels in die bekamping van siekte en moet saam met goeie higiëne, optimale voedingsbestuur, stresbestuur, kwarantyn en toets van alle inkomende diere in ‘n kudde en parasietbeheer (dip teen bosluise byvoorbeeld, gereelde ontwurming) toegepas word.

Die hoofrede dat ‘n entstof faal is gewoonlik die dier se immuunsisteem self. ‘n Volledig funksionele immuunsisteem is ‘n voorvereiste vir ‘n entstof om te werk. Entstowwe op hulle eie verleen nie beskerming nie maar verskaf slegs die bloudruk vir die liggaam om die immuunsisteem te stimuleer. Indien die diere siek of gestres (swak hantering of baie hoë omgewingstemperature) is tydens die immunisasie prosedures sal die entstof heel moontlik ook faal. Diere met hoë parasiet ladings, hetsy interne parasiete (wurms) of eksterne parasiete (bosluise, luise en myte) sal ook swakker reageer teenoor ‘n entstof.

Ander redes dat ‘n entstof faal is: verkeerde tyd van toediening, geen skraagdosis of ‘n skraagdosis te lank na die eerste toediening, verkeerde hantering van entstowwe (warm temperature), die dier is reeds siek tydens toediening, verkeerde stam of tipe entstof, ouderdom van die dier (te jonk of baie oud), verkeerde dosis of roete van toediening (binnespiers in plaas van onderhuids) of net doodgewoon ‘n swak entstof.

Immunisasieprogramme

‘n Immunisasieprogram moet vir elke spesifieke plaas apart opgestel word. Daar bestaan riglyne vir immunisasieprogramme maar u veearts is die heel beste persoon om u behulpsaam te wees in die opstel van ‘n korrek saamgestelde en ekonomiese immunisasieprogram.

Kontak gerus u kuddeveearts vir meer besonderhede.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.