SOUTH AFRICA

Biosekuriteit - Deel 4

Kudde Immuniteit
Dr Chris van Dijk

Deur ‘n basiese kennis van immunologiese beginsels en die voorkoming van situasies en toestande wat moontlik die immuunsisteem van u diere nadelig mag beïnvloed kan u kudde beter beskerm word teen infeksiesiektes en finansïele verliese kan tot ‘n minimum beperk word.   

In rugby weet ons dat ‘n goeie verdedigingspatroon amper meer noodsaaklik is as ‘n aanvalspatroon om te verseker dat wedstryde gewen kan word. ‘n Gemiddelde span wat kan aanval en verdedig sal heel moontlik beter presteer as ‘n span wat mooi rugby speel en nie kan verdedig nie.

‘n Soortgelyke vergelyking kan in melkerye gemaak word. Ons is geneig om te veel te fokus op aanval (goeie genetika, meer koeie, beter fasiliteite ensovoorts), wat noodsaaklik is as ons punte (wins) op die telbord wil kry. Al hierdie aksies mag egter van geen waarde wees as ons nie ‘n sterk verdedigingsprotokol inbou in die bestuur van die  melkery nie en dan toelaat dat aansteeklike siektes punte aanteken. Na ‘n verloor wedstryd mag volgende Saterdag dalk ‘n beter dag op die rugbyveld wees, maar as ons eenkeer gefaal het op die speelveld van ‘n melkery kan dit wees dat ons heeltemal moet onttrek uit die liga.   

Die immuunstelsel is ‘n komplekse samestelling van verskillende sisteme en organe wat almal saamwerk om te verseker dat mens en dier nie onnodig benadeel word indien ons aan aansteeklike organismes ensovoorts blootgestel word nie. Die  immuunstelsel bestaan uit ‘n nie spesifieke sisteem waar verskeie meganiese meganismes (vel, trane, slym en speeksel) en aangebore meganismes (koors, inflammasie, chemiese reaksies) ‘n rol speel asook ‘n spesifieke sisteem waar reaksies in die liggaam die dier teen siektes beskerm. Laasgenoemde reaksies vind lokaal op die slymvliese (lokale immuniteit) maar ook in die bloedstroom (humorale immuniteit) en selfs binne in selle (selbemiddelde immuniteit) van die liggaam plaas.

In die volgende diagramme word die verwantskap tussen weerstand (verdediging) en uitdaging (siekte veroorsakende organismes/parasiete) skematies voorgestel. Indien die weerstand (immuniteit) lyn bokant die uitdagingslyn bly sal daar geen siekte in die kudde wees nie. Indien die vlakke van weerstand verlaag en/of die vlak van daging verhoog sal siektes (mastitis, aborsies, diarree….) in die kudde uitbreek. Produksie en wins volg die weerstand lyn en sal dus ook afneem indien die weerstand verlaag en siektes begin uitbreek.

VERLAAGDE IMMUNITEIT OF WEERSTAND

Die weerstandvermoë van ‘n enkel dier en veral die kudde is ‘n funksie wat hoofsaaklik deur die immuunsisteem vervul word. Enige situasie wat die werking van die immuunsisteem mag beïnvloed sal vanselfsprekend die dier se weerstand verlaag en die risiko van siektes dramaties verhoog. Deur hierdie situasies reg te stel of te vermy sal  kuddes en veral die gesondheid (biosekuriteit) van die kuddes daarby baat en finansïele verliese kan tot ‘n minimum beperk word. ‘n Paar oorsake van ‘n verlaagde funksie in die immuunsisteem word hierna gelys:

  1. Stres
  2. Voedingstekorte
  3. Parasiete (interne en eksterne parasiete)
  4. Sekere virusse soos BVD en IBR
  5. Sekere middels
  6. Ouderdom
  7. Genetiese oorsake

STRES

Dit is amper algemeen kennis in ‘n melkery dat stres toestande soos verhoogde omgewingstemperatuur en humiditeit ‘n negatiewe effek op onder andere produksie en selfs reproduksie sal hê. Maar lank voor die verlaagde vlakke in melkproduksie of die verlengde tussenkalwingsperiode opgemerk word, word die immuunsisteem negatief beïnvloed en die dier is meer vatbaar vir enige siekte veroorsakende organisme. Stres verlaag die dier se aptyt maar die immuunsisteem word direk beïnvloed deur die oormatige produksie en vrystelling van kortikosteroïde (kortisoon) wat die immuunstelsel direk onderdruk. In die volgende tabel word ‘n paar stres situasies in melkerye opgesom.

Hitte

Humiditeit

Koue

Vogtigheid

Swak ventilasie

Geraas

Ongemak in behuising

Elektriese skok

Onwatering

Te veel diere per area

Vervoer

Pyn

Rantsoen veranderings

Hoë produksie stres

Asidose (suurpens)

Ander voedingssteurnisse

Onthoringing

Kastrasie

Chirurgie

Moeilike kalwings

Trauma

Uitputting

Baie van hierdie situasies en toestande gebeur baie keer gelyktydig en die effek op die immuunstelsel raak dan kumulatief nog groter. Baie siektes breek uit of kom voor na ‘n stres situasie en kon voorkom word indien hierdie situasies vermy of tenminste verminder was.

VOEDINGSTEKORTE

Baie kos voorrade moet voorsien word aan ‘n ‘n weermag bataljon en indien hierdie bataljon in ‘n oorlog betrokke is sal daar selfs meer voorrade nodig wees om die troepe in top kondisie te hou – dieselfde geld vir die immuunsisteem. Energie en proteïene is twee van die heel basiese benodighede van die immuunsisteem. Die beste voorbeeld hiervan word gesien in jong diere veral met ‘n subkliniese probleem wat nie werklik sigbaar is nie, onderliggend is die dier egter siek. ‘n Kalf met interne parasiete se groei word benadeel aangesien daar energie en proteïene tekorte ontstaan deurdat die liggaam die voedingstowwe eers na die immuunsisteem kanaliseer. Lank voordat ons egter opmerk dat die dier nie soos sy kuddemaats groei nie, is sy immuunsisteem egter reeds ge-affekteer en sal hierdie dier nie siekte uitdagings kan weerstaan soos ‘n normale gesonde kalf met ‘n immuunsisteem wat optimaal funksioneer nie.

Baie spoorelemente of mikrominerale en vitamienes is ook nodig vir die immuunsisteem om optimaal te funksioneer. Koper en selenium is krities – sonder die 2 sal die immuunsisteem nie optimaal funksioneer nie. Melkprodusente, kudde veeartse en voedingskundiges behoort almal saam te werk om hierdie tekorte aan te spreek. Elke melkery sal verskillende tekorte (en selfs oormate) hê as gevolg van plaaslike grondtipes, water kwaliteit en ook as gevolg van die bron en tipe voere wat in die kudde gebruik word. Spoorlement aanvullings moet vir elke plaas individueel voorsien word – die “een-vir-alle-plase” verpakkings is nie geskik nie. Die korrekte bepaling van spoorlement tekorte (en oormate) en dan die korrekte voorsiening en toediening van die regte produk sal ‘n dramatiese effek op die verhoging van die kudde se totale immuniteit hê en uiteindelik op meer meetbare aspekte soos onder andere produksie en reproduksie.

PARASIETE EN VIRUSSE

Beide interne parasiete en sekere virusse kan die immuunsisteem direk onderdruk. Interne parasiete het verskeie verdedigingsmeganismes wat hulle gebruik om te keer dat die liggaam hulle verwerp. Interne parasiete kan gedeeltes van die immuunsisteem so besig hou dat die gedeelte van die immuunsisteem verantwoordelik vir die immuunreaksie teenoor aansteeklike siektes (virusse en bakterieë) feitlik glad nie meer funksioneer nie. Immunisasie van hierdie diere sal in baie gevalle onsuksesvol wees en sou hierdie diere aan ‘n aansteeklike organisme blootgestel word sal hulle heel waarskynlik siek word en selfs doodgaan. Ontwurming van diere verseker nie slegs verhoogde massatoenames en melkproduksie nie, maar verseker ook ‘n gesonde immuunsisteem.

Die Bees Virus Diarree (BVD) virus en Bees Herpes Virus (IBR) is beide bekende imuunonderdrukkende virusse. BVD val onder ander die witbloedselle aan wat dan aanleiding tot ‘n verlaagde immuun funksie en weerstand in die dier gee.

MIDDELS

Baie middels word toegedien sonder enige gedagte aan die effek van die middel op die immuunsisteem. Antibiotika mag as wonderlike middels beskou word maar sal in baie gevalle nutteloos wees sonder die samewerking van ‘n gesonde immuunsisteem. Antibiotika word gebruik om die immuunsisteem te ondersteun en ‘n hupstoot te gee om ‘n bakteriese infeksie onder beheer te kry. Soms word ‘n antibiotika geblameer dat dit faal om ‘n infeksie onder beheer te bring, maar dan is dit eerder die immuunsisteem wat swak of glad nie gewerk het nie.

Middels soos die steroïde (kortisone) onderdruk na toediening ook die imuunstelsel. Kortisone mag die dier laat beter voel en verminder inflammasie, maar die negatiewe effek op die immuunsisteem moet altyd ingedagte gehou word as kortisone toegedien word.

OUDERDOM EN GENETIKA

Daar is twee ouderdomsgroepe wat geassosieer kan word met ‘n verlaagde immuunfunksie en dit is die baie jong dier en die baie ou dier. Die jong dier se immuunsisteem is nog nie volledig ontwikkel nie en is ook nie totaal funksioneel nie. Die jong kalf steun baie op teenliggaampies wat deur die kolostrum (biesmelk) vanaf die koei in die eerste 6 uur na geboorte ontvang is tot tyd en wyl die kalf se immuunsisteem sodanig ontwikkel is om beskerming aan die kalf te bied.

In die ou dier is die immuunstelsel een van die stelsels wat stadiger en swakker begin funksioneer. Ouderdom plus suboptimale voeding en ander stres faktore maak ouer diere dus baie meer vatbaar vir aansteeklike siektes.

OPSOMMEND

Indien ons, ons kuddes wil beskerm (en behou) is dit krities om die enkel dier, maar ook die kudde se immuunstatus en al die faktore wat moontlik ‘n rol in hierdie status mag speel in ag te neem. Melkprodusente moet by vernuwing weer aandag gee aan al die bestuursaspekte, gesondheidsprogramme en biosekuriteitsprogramme met die immuunsisteem as fokus.

Kontak gerus u Kuddeveearts vir meer besonderhede.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.