SOUTH AFRICA

Reproduksie en Ekonomie

In die meeste moderne melkproduserende lande is vrugbaarheidsprestasie besig om te verswak eerder as om te verbeter. Sedert die laat 1950’s, vroeg 1960’s toe kunsmatige inseminasie as standaard prosedure op bykans alle plase toegepas word het meeste reproduksie parameters verswak. Sommige melkkuddes het selfs teruggekeer na natuurlike dekking met ‘n bul. 

Oor die afgelope 20 jaar is daar net soveel teelprogramme probeer as wat daar amper veeartse is en alhoewel reproduksie die kern van ons sogenaamde kuddebenadering is, is die resultate in baie gevalle uiters teleurstellend. Kuddeprogramme is op baie plase geïmplementeer – Sommige suksesvol, ander minder suksesvol met een van die hoofredes vir die nie-aanvaarding van kuddeprogramme sekerlik die feit dat ons as veeartse geen metode gehad het om ons suksesse met kuddeprogramme te meet nie. Deur net te bly by “Dragtig en Nie-dragtig” en met geen verdere insette van ons kant af nie is baie produsente later van opinie dat die veearts net geld kos en niks “inbring” nie.

Hoë melkproduksie en genetika word in meeste gevalle as die oorsaak voorgehou. As ons egter na sommige hoogproduserende kuddes kyk sien ons dat tenspyte van baie hoë produksies die vrugbaarheid prestasie in daardie kuddes steeds baie goed is – hoër melkproduksies en sogenaamde super genetika het nie hierdie kuddes negatief beïnvloed nie, maar die persone by hierdie kuddes betrokke (veearts en produsent) het besef dat hulle ‘n reproduksie plan in plek moet hê en dat hulle dit korrek moet benader om optimale vrugbaarheidsprestasie te verseker.

Een van die grootste probleme met enige benadering in kuddegesondheid is die uitdaging om data te gegenereer wat iets beteken en om hierdie data te gebruik om positiewe en/of negatiewe veranderings in ‘n kudde te bepaal. Die stelling: “As jy dit nie kan meet nie, kan jy dit nie verander nie” bly steeds ook in die kuddebenadering baie waar.

Die ekonomiese verliese met swak vrugbaarheidsprestasie kan op baie maniere bepaal word. ‘n Praktiese en relatief maklike metode (maklik in die sin dat die data geredelik beskikbaar behoort te wees en nie lang soektogte binne ‘n bestaande rekordsisteem tot gevolg sal hê nie) sal kortliks hier bespreek word. As u reeds betrokke is of betrokke wil raak by ‘n kudde kan hierdie berekening dalk net daardie ekstra oortuiging wees om die produsent te oortuig dat finansiële verliese as gevolg van suboptimale vrugbaarheidsprestasie baie groot mag wees en kan aanleiding gee tot “uitwissing” van ‘n bedryfstak (in hierdie geval sy melkery) binne sy boerdery opset.

Met verwysing na Tabel 1 word slegs 3 veranderlikes in ag geneem.

  • Gemiddelde Dae In Melk (DIM): Om dit te bereken het ons al die koeie huidiglik in melk se kalfdatums benodig. Eenvoudige spreivelle (Excel) kan dan die verskil in dae tussen die huidige datum (datum van berekening) en die kalfdatum bepaal. Die gemiddelde DIM word dan bereken en ingevoer in onderstaande spreivel (Tabel 1). Die ander waardes (Doelwit DIM, melkprys, ensovoorts) is reeds ingevoer en die program bereken dan die totale verlies aan melkverkope as gevolg van koeie wat later in melk kom of laer laktasiekurwes. In hierdie voorbeeld is dit R 181 558.
  • Uitskotverliese as gevolg van verhoogde reproduksie uitskotte word ook bereken. Waardes soos die koste van ‘n vervangingsvers, uitskotwaarde, koste van ‘n uitskotkoei ensovoorts is reeds ingevoer. In die voorbeeld is die persentasie uitskot 35% in plaas van die ideaal van 25%. Die finansiele verliese is R 20 000
  • Produksieverliese as gevolg van lang droë periodes word bereken deur die gemiddelde verskil in dae droog te bereken (gemiddelde kalfdatum minus afdroogdatum) en dit dan in te voer in die spreivel. Ander veranderlikes is reeds ingevoer en die berekening word dan deur die program gedoen. Verliese in die geval is R 2100 met totale verliese as gevolg van suboptimale reproduksie in hierdie kudde ‘n bedrag van R 203 658.
MELKVERKOPE VERLORE AS GEVOLG VAN LATER MELKING OF LAER LAKTASIEKURWE
Gemiddelde Dae in Melk (DIM) 200  
DIM Doelwit 160  
Koeie in melk 100  
Melkverlies per koei/dag

0.077

 
Melkprys per liter R1.90  
Dae in jaar 365  
% Koeie in melk 85%  
     
TOTAAL R181,558  
Negatiewe waarde beteken 'n toename as gevolg van vroeër melking of hoër laktasiekurwe
     
 
PRODUKSIEVERLIESE AS GEVOLG VAN LANG DROë PERIODES
Gemiddelde Dae droog 70  
Maksimum Dae droog

60

 
Aantal Tweede laktasie koeie 70  
Koste van addisionele dae droog per dag R3.00  
     
TOTAAL R2100.00  
Negatiewe waarde beteken produksietoename as gevolg van korter droë periodes
     
UITSKOTVERLIESE
Vervangingsvers koste R4500.00
Uitskotwaarde R2500.00
Koste van Uitskot koei R2000.00
Gemiddelde kudde grootte 100
% Uitskot 35%
Doelwit % Uitskot 25%
   
TOTAAL R20 000.00
 

TOTALE VERLIESE AS GEVOLG VAN REPRODUKSIE PROBLEME

R203658

 

Tabel 1 – Verliese as gevolg van Reproduksie probleme

As ons nou bogenoemde bepaal het is die vraag: Wat kan ons doen om dit te verbeter?

Vrugbaarheidsprestasie kan op baie maniere gemeet word: Dae oop, kalwingsinterval, eerste dekking konsepsietempos, dae tot eerste dekking, reproduksie uitskottempos ensovoorts is maar ‘n paar van die maatstawwe wat ons kan bepaal. Die probleem is egter dat meeste van hierdie maatstawwe, 12-maand gemiddeldes is, met veranderings wat nie vinnig genoeg plaasvind om ons te dwing om nuwe verbeterde programme of ‘n verandering in die huidige bestuursbenadering te probeer bewerkstellig nie. 

Die vraag is nou, hoe kan ons vrugbaarheidsprestasie sinvol meet? Dragtigheidstempo (DT)  [Engels = Pregnancy Rate (PR)] is ‘n relatiewe nuwe metode wat prakties gebruik kan word. DT is ‘n tyd-sensitiewe veranderlike, waar veral die DT in die eerste 21 dae na die vrywillige wagperiode (VWP = is die aantal dae na kalwing waar teling weer moet begin) meer waarde het as meeste van die maatstawwe hierbo genoem.

Dragtigheidstempo (DT) is die som van Hittewaarnemingstempo (HWT) vermenigvuldig met die Konsepsietempo (KT)

DT = HWT x KT

In bogenoemde formule sal KT in meeste gevalle nie baie verander nie – in meeste kuddes is KI tegniek en tyd van inseminasie en uiteindelike KT redelik konstant in die omgewing van 50% of met ander woorde ons gebruik 1,8 tot 2 strooitjies per inseminasie. Een of twee prosedures rondom KI kan dalk opgeskerp word maar ons sal baie moeilik die KT hoër as 60% kry.

As ons dus aanvaar dat KT 50% is, wat veroorsaak die lae DT van 10-15% in meeste

kuddes in Suid Afrika? Dit is die ander gedeelte van bogenoemde formule naamlik die HWT (dit is die aantal koeie wat op hitte geobserveer is, geïnsemineer is en wel kalf) wat so laag as 10% in meeste kuddes is. Die gemiddeld vir ‘n aantal sogenaamde topkuddes in Suid Afrika onlangs bereken was 22%. Die DT is dus in die omgewing van 11% (DT = HWT x KT of 22% x 50% = 11%).

Met ‘n DT van 15% word soveel as 22% van normale koeie uitgeskot omdat hulle nie dragtig is in 10 hittesiklusse nie of voor 270 dae in melk nie. Weereens nie net ‘n finansïele verlies soos bereken in Tabel 1 nie maar ook ‘n verlies aan genetika.   

As DT die maatstaf is wat behoort die doelwit te wees? Kan ons 50% DT verkry as hitte-observasie die klaarblyklike probleem in die vergelyking is? Ja, dit is moontlik en dit gaan nie ‘n kwantum sprong beteken van wat huidiglik op meeste plase toegepas word nie. Dit gaan egter baie meer toegewyde insette van ons as veeartse en ook van die produsent vra om die optimale DT van 50% te bereik. 

In teorie kan die HWT relatief maklik verhoog word, selfs na 100% met teelprogramme waar prostaglandiene of gekontroleerde progesteroon behandelings toegepas word. Die praktyk toon egter anders – as daar net op hierdie programme vertrou word om die DT te verhoog gaan ons dalk die huidige DT verdubbel na byvoorbeeld 30% (HWT = 60% en KT = 50%) en dan ontstaan die vraag dadelik, hoekom kan ons nie die doelwit DT van 50% bereik nie.

Verse en koeie met probleme (moeilike geboortes, melkkoors, metritis of metaboliese siektes) tydens en net na kalwing is baie moeilik om dragtig te kry. Hulle sal uiteindelik dragtig word, maar dit is nie die doelwit nie. Om dit te oorkom moet daar ook ‘n sogenaamde “Vars koei program” asook ‘n “Droë koei program” op elke plaas in plek wees. Mastitis voorkomingsprogramme, kondisietellingprogramme en oorgangs droë koei voedingsprogramme moet ook hierby aansluit.

As dit alles in plek is moet ons in staat wees om die hopelik positiewe veranderings met betrekking tot reproduksie te kan meet. Baie produsente en veeartse gebruik steeds net die aantal diere dragtig tydens die dragtigheidsondersoek as al maatstaf om vrugbaarheidsprestasie te bereken. Dit sluit egter klomp diere uit en is statisties van geen waarde nie.

Die oplossings is om groepe (Engels = Cohorts) van diere te meet. Afhangend van die grootte van die kudde kan die DT weekliks of tweeweekliks bepaal word. Hierdie benadering sal ons toelaat om te bepaal watter persentasie van ‘n groep diere wat in ‘n sekere week gekalf het wel dragtig geraak het in ‘n spesifieke periode. Soos reeds voorheen genoem is die eerste siklus van 21 dae na die vrywillige wagperiode (VWP) waarskynlik die mees betekenisvolle maatstaf met betrekking tot vrugbaarheidsprestasie. Sou die maatstaf byvoorbeeld wees om alle koeie te teel tussen 60 en 81 dae na kalwing kan ons reeds by 100 tot 110 dae in melk (met ander woorde met die eerste dragtigheidsondersoek) die DT vir die groep diere bepaal. Sou daar ‘n betekenisvolle afwyking in die DT wees en veral as daar ‘n tendens ontstaan dat die DT aan die afneem is kan ons baie gouer verder betrokke raak met die ondersoek van moontlike aanleidende oorsake soos hittewaarneming (akkuraatheid en intensiteit), voeding, semen hantering, ander siektes, omgewingsfaktore ensovoorts.

In Tabel 2 (Excel Spreivel) word die berekeninge maklik gedoen sonder om tydrowende data soektogte aan die gang te sit.

Kolom B is die ideaal wat ons graag sou wou bereik. So byvoorbeeld in kolom B en ry 1 (B1) word die aantal diere wat in ‘n sekere periode van die jaar geïnsemineer is ingelees. Met die dragtigheidsondersoek 6-10 weke na hierdie periode word die aantal suksesse ingelees. In hierdie geval is 50 (B2) van die 100 diere dragtig wat in week 1 geïnsemineer is. Die Konsepsietempo is dus 50% (B3).

Die vrywillige wagperiode (VWP) in die voorbeeld is vasgestel as 50 dae (B4) en die gemiddelde aantal dae vanaf kalwing tot eerste inseminasie is ook 50 dae (B5) en daar is dus geen afwyking van die doelwit nie (B6 = 0 dae)

Die Verwagte Periode van Estrus (VPE) word dan bereken (B7 = 1) asook die Hittewaarnemingstempo (HWT = 100% = B8) waarna die Dragtigheidstempo in B9 bereken word. In hierdie geval, die ideaal van 50%.

Dieselfde word dan vir ander groepe van diere (Cohorts) gedoen. In kolom C is die Konsepsietempo (C3) steeds 50% en die gemiddelde tyd tot eerste KI 70 dae (C6) met ‘n Dragtigheidstempo van 33.87% (C9). ‘n Verdere voorbeeld is kolom D waar daar ‘n Dragtigheidstempo van 25.61% (D9) is.

As die Dragtigheidstempo eers bepaal is sal afwykings baie gou uitgewys word wat verdere optredes soos hierbo genoem sal regverdig en ook beloon in die sin dat die kudde se vrugbaarheidsprestasie sal verbeter.

  A B C D
  IDEAAL Week 1 Week 2
1 AANTAL INSEMINEER (# AI) 100 100 100
2 AANTAL DRAGTIG (# P) 50 50 50
3 KT = # P / # AI 50% 50% 50%
         
4 VWP = DOELWIT VIR KONSEPSIE 50 60 60
5 TYD TOT EERSTE KI 50 70 80
6 AFWYKING VAN DOELWIT 0 10 20
         
7 AFWYKING/21d+1 = VERWAGTE PERIODE VAN ESTRUS (VPE) 1.0 1.5 2.0
         
8 HWT = 1 / VPE 100.00% 67.74% 51.22%
         
9 DRAGTIGHEIDSTEMPO = KT X HWT 50.00 33.87 25.61

Tabel 2 – Bepaling van Dragtigheidstempo

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.