SOUTH AFRICA

DIE EKONOMIE VAN MASTITIS BEHEER

Tot so hoog as 40 % van kuddes in Noord-Amerika is besmet met mastitis.  Die syfer in Suid-Afrika is heel waarskynlik baie hoër en kan heel waarskynlik toegeskryf word aan swak bestuur, swak melkprosedures en toerusting, ontoereikende stalle en ook die neiging om te teel vir hoër en hoër melkopbrengste.

Mastitis is ‘n aansteeklike siekte en alle metodes vir kommersiële melkproduksie, hoe goed of sleg, skep toestande waar mastitis van koei tot koei kan versprei.

Mastitis verskil van siektes soos brucellose en tuberkulose daar die doel met ‘n program nie algehele uitroeiing kan wees nie maar slegs doeltreffende beheer op kudde-, streeks- en nasionale basis.

Mastitis kom voor in verskillende grade maar gerieflikheidshalwe word slegs tussen kliniese - en subkliniese mastitis onderskei. Vir elke kliniese geval van mastitis kan daar tussen 15 tot 40 subkliniese gevalle wees. Subkliniese gevalle is gewoonlik ‘n kuddeprobleem en verlaag melkopbrengs en kwaliteit.

‘n Uiergesondheidsprogram se doelwitte behoort onder andere die volgende te wees:

  • Verhoogde ekonomiese opbrengs
  • Effektief in meeste kuddes
  • Vermindering van nuwe infeksies
  • Verkort duur van bestaande infeksies
  • Verminder kliniese mastitis
  • Aanpasbare program by omstandighede wees

Die primêre rede vir mastitisbeheer (uiergesondheid) moet op ekonomiese beginsels geskoei wees.  Dit maak dit nie net vir die boer meer aanvaarbaar indien dit in monetêre terme gemeet word nie (vir die meeste boere is die wêreld van die mikrobe ‘n moeilik aanvaarbare begrip) maar dit maak dit ook moontlik om sukses in ‘n program in rand en sent te meet.

Aan die hand van ekonomiese beginsels is die volgende ‘n moniteringsprogram wat in ‘n beheerprogram gebruik kan word.
Hierdie program stel dan doelwitte en wel om die volgende redes:
i) dit dien as basis om die sukses van ‘n program te meet
ii)dit dien as motivering om nog beter beheer oor mastitis te verkry

Monitering is belangrik om die huidige stand te bepaal asook sukses (of mislukking) oor ‘n tydperk.

‘n Basiese moniteringsaksie sal parameters vir klinies en subkliniese mastitis insluit, asook massatenktellings en kulture.  Melkopers gee saam met die opgawe van melk ontvang, somatiese seltellings van die massatenk wat ‘n goeie aanduiding is van die kudde se mastitis status. ‘n Enkel uitslag mag egter misleidend wees, maar die patroon oor ‘n tydperk is ‘n goeie aanduiding van ‘n kudde se mastitis status. Dit moet gesien word saam met plaattellings, koliformetelling, pasteurisasietelling en kulture vir Mycoplasma indien beskikbaar.
Indien probleme vermoed word na aanleiding van hoë massatenk SST kan individuele CMT (Kalifoniese Mastitis Toets) of SST (Somatiese Seltellings) gedoen word asook kulture en antibiogramme.

Somatiese seltellings is die beste kontrole vir ‘n mastitis program. Die CMT toets is nie geskik vir gebruik op massatenk monsters nie, daar die meeste melk tussen ‘n spoor en negatief sal toets. Dit kan egter met groot vrug gebruik word om individuele koei mee te monitor vir mastitis. Hierdie CMT tellings kan nadat dit gestratifiseer of in groepe gesorteer is gebruik word om die ekonomiese belang van mastitis beheer te illustreer. Hierdie berekeninge gee dadelik vir ons ‘n aanduiding wat die verliese as gevolg van subkliniese mastitis in kuddes is. In mastitis kuddes (en ook sogenaamde “skoon” kuddes) is die grootste verliese as gevolg van subkliniese mastitis.

Met die totale verliese as agtergrond op ‘n maandbasis of ‘n jaarbasis bereken kan ‘n gestruktueerde uiergesondheidsprogram deur u veearts in plek gestel word. Kostes word aan die program toegeken wat dan die totale kostes per jaar en per koei bereken. Die beheerprogram sal onder andere die volgende insluit:

  • speendoop
  • droë koei behandeling
  • monitering van SST (massatenk en/of individuele koeie)
  • verbeterde higiëne
  • gereelde ondersoek van melkmasjien
  • gereelde veearts besoeke

In enige uiergesondheidsprogram sal daar verliese wees veral as gevolg van die effek van subkliniese mastitis op melkproduksie maar hierdie verliese kan tot ‘n minimum beperk word.

Bogenoemde is ‘n praktiese metode om die noodsaaklikheid van ‘n mastitis program te demonstreer en kan ook help om ‘n program se sukses of mislukking te monitor.

Ter afsluiting miskien net nog ‘n paar gedagtes:

  • Mastitis sal altyd ‘n duur siekte bly selfs met die implementering van ‘n effektiewe kontroleprogram. Melkverliese as gevolg van subkliniese infeksies sal die hoofoorsaak van ekonomiese verliese bly.
  • Die instel en behoorlike uitoefening van ‘n nie noodwendige duur kontroleprogram sal ‘n defenitiewe rol speel by die uiteindelike winsgewendheid van ‘n melkery.
  • ‘n Mastitiskontroleprogram is dus ‘n proses wat deurentyd in alle kuddes toegepas moet word.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that11 may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.