SOUTH AFRICA

Tussenkalwingsperiode – Wat is die ideaal?

Suboptimale reproduksie is nie net ‘n bron van frustrasie vir melkprodusente en hulle veeartse nie, maar verlaag ook die winsgewendheid van ‘n melkplaas. Tydige herteling postpartum is dit noodsaaklik om die gemiddelde aantal dae oop en die tussenkalwingsperiode (TKP) so laag as moontlik te hou. ‘n Suksesvolle teelprogram verhoog winsgewendheid deur die koeie maksimaal in die periode te hê, waar hulle die meeste geld kan verdien, en dit is wel tydens die laktasie periode na kalwing. Tradisioneel is dit altyd aanbeveel dat die ideale TKP ongeveer 13 maande is. Alhoewel baie produsente en veeartse van mening is dat hierdie parameter van 13 maande uitgedien is, gee die volgende tabel ons dalk iets om weer oor te dink. Hierdie tabel is opgestel uit ongepubliseerde data van Jones wat aangehaal is in ‘n artikel van Fricke.

Die volgende aannames was gemaak:

  • Piek melkproduksie by week 8 = 46 kg;
  • 305 dae melkproduksie = 12100 liter;
  • Daaglikse afname in produksie vanaf piek tot einde van laktasie = 0,1844%;
  • Begin BST gebruik op dag 63 na kalwing;
  • Aanvanklike BST respons = ekstra 3,64 liter;
  • Dae droog = 56 dae;
  • Gemiddelde aantal laktasies voor uitskot = 3;
  • Vervangingskoste = $ 1400;
  • Waarde van uitskotkoei = $ 450;
  • Waarde van ‘n kalf = $ 100;
  • Melkprys = $13/cwt

Berekende jaarlikse inkomste van ‘n melkkoei met verskillende TKP’s

TKP – Weke en (maande)

Jaarlikse inkomste ($)

Verskil van 56 weke

56 (13)

959.18

Nul

60 (14)

936.78

-23.14

64 (15)

909.65

-50.17

68 (16)

879.49

-80.33

72 (17)

847.13

-112.69

76 (18)

813.19

-128.63

Alhoewel die syfers in Amerikaanse dollars is kan ons duidelik sien dat daar ‘n verlaagde inkomste van bykans 18% per koei is vanaf ‘n TKP van 13 maande teenoor dieselfde koei met ‘n TKP van 18 maande. Hierdie syfers is welliswaar bereken met behulp van ‘n model en sal heel moontlik in praktyk verskil maar dit is tog nodig dat ons daarvan kennis neem en nie net blindweg saam met diegene saamstem wat langer TKP’s goedpraat nie.

Daar is verskeie areas in reproduksiebestuur waaroor melkprodusente en veeartse beheer kan uitoefen om so vroeg as moontlike na kalwing te herteel. Hier dink ons aan die bepaling van die vrywillige wagperiode (VWP), sistematiese of program teling deur byvoorbeeld sinchronisasie programme te implementeer, die daarstel van ‘n duidelike beleid rondom dragtigheidsdiagnose – wanneer om dit te doen en wat die optrede is veral nadat ‘n koei nie dragtig bevestig is nie en dan ook die bepaling van ‘n selektiewe uitskotbeleid waar die besluite geneem moet word of daar verder met ‘n koei geteel moet word aldan nie, na verskeie mislukte pogings. Elkeen van hierdie aspekte sal in meer besonderhede bespreek word.

Vrywillige Wagperiode

Na kalwing benodig elke koei ‘n tydperk waartydens onder andere normale involusie van die uterus moet plaasvind. Hierdie periode, waartydens geen teling gedoen word nie staan bekend as die vrywillige wagperiode (Engels = Voluntary Waiting Period).

Die vrywillige wagperiode (VWP) is belangrik aangesien dit ‘n belangrike rol in die uiteindelike interkalwingsperiode speel en is amper die “maklikste” gedeelte wat produsente kan beheer. Om konsepsietempos en effektiewe hittewaarneming te beïnvloed is inherent ‘n probleem.

Die VWP is deel van die oorgangsperiode direk na kalwing en is ‘n betekenisvolle risikoperiode ten opsigte van die toekomstige gesondheid en produktiwiteit van ‘n koei. Koeie ondervind baie keer in hierdie periode fisiologiese en ander probleme soos melkkoors, plasentale retensie, metritis, ketose, verplaasde abomasums en sistiese ovariale siekte. Nuwe benaderings tenopsigte van droë koei voeding soos die voer van anioniese soute en monitering van rumen motiliteit en liggaamstemperatuur, veral in die eerste 10 dae post partum kan egter baie van hierdie probleme voortydig identifiseer.

Om die VWP vir ‘n plaas te bepaal mag moeilik wees, aangesien daar geen optimale beleid gebaseer op analitiese anlises beskikbaar is nie. Die optimale tyd om te begin teel (die einde van die VWP) sal ook bepaal word deur semenkoste, koste per dag oop, huidige konsepsietempo en toekomstige konsepsietempos.

Een van die mees belangrikste faktore om te oorweeg as daar oor die VWP besluit moet word, is die vrugbaarheidspotensiaal van die kudde. Konsepsietempos is basies nul in die eerste week na kalwing en verhoog vinnig oor die opvolgende aantal weke soos wat involusie van die uterus vorder en normale oestrus aktiwiteit hervat word. Die tydperk wat koeie egter neem om hulle optimum of maksimum vrugbaarheid te bereik varieer baie tussen kuddes en word deur ‘n groot aantal omgewings- en bestuursfaktore bepaal. 

In ‘n gemiddelde kudde (waar omgewingsfaktore nie ‘n groot rol speel nie en bestuur so na as moontlik aan die ideaal is) is vrugbaarheid van die koeie steeds in ‘n stygende fase 65 tot 70 dae na kalwing en bereik dan ‘n plato. In onder gemiddelde kuddes (negatiewe effek van omgewing en swak bestuur) is die vrugbaarheid ook ver benede die ideaal. In goed bestuurde kuddes met geen of minimale effek vanuit die omgewing sal optimale reproduksie resultate reeds baie gou na kalwing bereik word – Laasgenoemde is egter meer die uitsondering as die reël. In die gemiddelde kudde sal daar ‘n groot verskil in konsepsietempos wees sou die VWP verander word vanaf 60 na 45 dae. Konsepsietempos in die swak en goed bestuurde kuddes sal feitlik identies wees met ‘n kort of lang VWP, maar as gevolg van verskillende redes. Die goed bestuurde kudde bereik reeds baie gou postpartum hoë konsepsietempos en die vraag in hierdie kudde sal in plaas van “kan ek my koeie vroeër teel” eerder wees “wil ek my koeie vroeër teel” Wat sal die ekonomiese implikasies wees as daar te veel koeie, te vroeg post partum dragtig is? In teenstelling sal die swak kudde net daarby baat as soveel as moontlike koeie so vroeg as moontlike dragtig kan raak. Laasgenoemde kudde sal in plaas van “kan ek my koeie vroeër teel” eerder moet vra “wat kan ek doen om konsepsietempos soos die gemiddelde of die top kudde te verkry”?

‘n Faktor wat altyd in gedagte gehou moet word as daar oor ‘n VWP besluit moet word is die melkproduksie van elke individuele koei. ‘n Onlangse studie het die effek van melkproduksie en VWP op konsepsietempos geëvalueer. Vyf weke post partum is koeie gekategoriseer in laer as gemiddelde produksie (< 25 liter), gemiddeld (25 tot 35 liter) en ‘n hoog produserende groep (35 liter plus). Alle gemiddelde koeie is met behulp van ‘n ovulasie sinchronisasieprogram tussen 73 en 81 dae postpartum geteel. In die laag produserende groep is daar met 2 groepe geteel tussen dag 53 en 59 postpartum en tussen dag 73 en 81 met ‘n soortgelyke sinchronisasie program met die idee dat dit meer ekonomies sal wees om die laer produseerders vroeër te teel. In die hoog

produserende groep is die eerste groep tussen dag 73 en 81 geteel en die tweede groep tussen dag 94 en 102 postpartum met die idee dat dit meer ekonomies is om die VWP te verleng in die hoog produserende groep. Konsepsietempos was laer in beide die laag en hoog produserende groepe met die korter VWP.

 

Onder gemiddelde melkproduksie 5 weke in melk

Gemiddelde melkproduksie 5 weke in melk

Bo gemiddelde melkproduksie 5 weke in melk

 

< 25 liter

25 – 35 liter

> 35 liter

DIM KI

Konsepsietempo

Dae oop

Konsepsietempo

Dae oop

Konsepsietempo

Dae oop

53-59

14%

115

 

 

 

 

73-81

35%

108

32%

114

28%

113

94-102

 

 

 

 

41%

123

Vanuit hierdie studie blyk dit dat daar nie ‘n goue duimreël vir ‘n VWP in ‘n kudde is nie. Produksies moet egter in ons berekeninge ingebou word maar tot tyd en wyl daar ‘n maklike metode is om VWP te bepaal waar alle faktore in ag geneem kan word moet 65 tot 75 na kalwing dalk as die ideale VWP geteiken word veral waar sinchroniasie programme ter sprake is. Koeie wat natuurlik op hitte kom 45 tot 65 dae na kalwing moet nie geïgnoreer word nie en moet geïnsemineer word sou hulle in hierdie periode op hitte kom, maar daar moet daarteen gewaak word dat daar met ‘n te groot persentasie van die kudde geteel word, voordat die koeie werklik gereed is. Om die VWP te kort te maak mag die reproduksieprestasie negatief beïnvloed word en hormone, semen, geld en miskien die belangrikste, tyd mag gemors word. Produsente wat kort VWP’s implementeer moet dalk alles in heroorweging neem en ook kyk na die werklike sukses – Dit mag dalk meer winsgewend wees om ‘n bietjie langer te wag.

Sistematiese of Programteling

Om soveel as moontlike koeie dragtig te kry, is dit krities dat daar op elke plaas as deel van die totale kuddegesondheidsprogram ‘n goed omskryfde telingsprogram of vir al die koeie of dan net vir ‘n sekere groep koeie (probleem koeie) na ‘n goed omskryfde periode is. Baie van hierdie programme is goed in die literatuur beskryf waar of prostaglandiene of progesteroon of ‘n kombinasie met goeie effek in sinchronisasieprogramme gebruik word. Die programme verskil in koste van implementering en graad van sinchronisasie. Die marginale ekonomiese opbrengs op hierdie programme is sensitief met betrekking tot die huidige hittewaarnemingstempo in ‘n kudde, waar hoë hittewaarnemingstempos die programme se koste voordeel verlaag

Dragtigheidsondersoeke

In meeste gevalle word hittewaarneming 21 dae na inseminasie en/of rektale palpasie of ultraklank in kuddes gebruik om te bepaal of ‘n inseminasie suksesvol was aldan nie. Dit is belangrik om oop koeie so gou as moontlik te diagnoseer, aangesien herteling of verdere optredes dan baie gouer toegepas kan word. Daar is ook sinchonisasieprogramme beskryf waar daar basies 14 dae na inseminasie weer met ‘n program opgevolg kan word, om hoë dragtigheidsyfers te verseker. 

Ekonomiese uitskot

Om maksimale wins uit ‘n kudde te realiseer moet die produsente ook die regte besluite kan neem om te besluite wanneer dit onekonomies is om enigsins verder met ‘n koei te probeer teel. Vir elke koei in ‘n kudde is daar ‘n optimale tyd wanneer sy vervang moet word. Hierdie punt word bepaal deur haar toekomstige produksie sowel as die produksie bydrae van die vers of koei wat haar gaan vervang. Soms gebeur dit dat as gevolg van siekte of dood ‘n koei gouer uit ‘n kudde verwyder word – vanselfsprekend sal dit ook ‘n ekonomiese verlies beteken. Indien die koei uitgeskot word na haar optimale tyd van uitskot is die produsent ook slegter daaraan toe aangesien die potensiaal van die vervangingsvers verloor word.

Winsgewende reproduksie sal maksimaal wees as die gemiddelde interkalwingsperiode 13 maande is – dit word egter nie in praktyk so ervaar nie. Nuwe bestuurshulpmiddels soos sistematiese of programteling moet tenvolle benut word om hierdie ideaal te bewerkstellig

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.