SOUTH AFRICA

Uitskot en Ekonomie

Baie melkprodusente is van mening dat hulle uitskot persentasie te hoog is, maar daar bestaan min inligting oor wat “normaal” is, en min besef ook dat die gemiddelde koste van vervangingsdiere ongeveer 20% van die totale bedryfskoste is – elke keer as ‘n koei uitgeskot word, word daar ‘n kontant koste teen die suiweleenheid geplaas. Hierdie kontant koste is die koste van die vervangingsdier minus die inkomste van die uitskot koei.

DIE EKONOMIE VAN UITSKOT

Daar is 3 basiese vrae wat die produsent homself behoort af te vra

  1. Is daar die optimale aantal diere in die kudde? Indien nie, moet die eerste doelwit wees om die optimale aantal diere te melk – dit is meer winsgewend om ‘n koei in laktasie in die stal te hê as om ‘n leë plek te “finansier”.
  2. As die stal optimaal gevul is wat diere betref, moet die winsgewendheid van elke koei bevraagteken word. Is dit meer winsgewend om ‘n koei te behou of om haar te vervang?
  3. Wat is die totale uitskot in die kudde? Is dit te hoog of te laag? Teen watter maatstawwe word dit vergelyk?

Die antwoorde ten opsigte van vraag 2 en 3 is onafhanklik van mekaar. Vraag 2 is basies: Wanneer is dit meer winsgewend om enige koei te vervang, teenoor vraag 3 wat meer op die totale kudde gerig is. So byvoorbeeld, kan uitskottempo drasties verlaag word deur geen koeie te verkoop nie, maar dit is sekerlik glad nie winsgewend om ‘n koei in die kudde te hou wat 400 dae oop is nie, slegs 10 liter melk produseer en daarop ook nog ‘n somatiese seltelling van 500 000 plus het. Laasgenoemde koei moet vervang word met ‘n gesonde lakterende koei. As die uitskottempo te hoog is moet daar gesoek word na die rede/s en daardie bestuursprobleme moet aangespreek word.

HOEKOM WORD DIERE UITGESKOT?

As uitskotsyfers vergelyk word is dit belangrik dat dieselfde inligting vergelyk word. Daar is ‘n aantal maniere waarop uitskottempo bepaal word. Een hiervan is die omsettempo. Laasgenoemde is die aantal koeie wat die kudde verlaat gedeel deur die gemiddelde kuddegrootte vermenigvuldig met 100. Byvoorbeeld in ‘n 100 koei kudde sal 40 nuwe verse ‘n nuwe laktasie begin en 40 koeie verkoop word. Die omsettempo is 40/100 = 40%. Uitskottempo daarenteen is die persentasie koeie wat begin met ‘n laktasie maar dan uitgeskot word. In die voorbeeld hierbo het 40 koeie die kudde verlaat waar 100 koeie plus 40 verse aanvanklik ‘n laktasie begin het. Die uitskottempo is dan 40/(100 + 40) = 28,6%.

In die tabel hieronder is ‘n opsomming van redes (VSA) hoekom diere uitgeskot word. In baie kuddes word die uitskottempo hoofsaaklik bepaal deur die aantal vervangingsdiere wat beskikbaar is.

Rede vir uitskot

NAHMS1

Grense

Persentasie van kalwings

Vrywillige uitskot

21,3

22,5 – 49,0

7,5

Reproduksie

25,3

15,8 – 34,9

8,9

Mastitis

25,1

7,8 – 25,1

8,8

Dood

5,1

0,6 – 11,8

1,8

Voete en bene 

14,2

1,8 – 14,2

5,2

Siekte/besering

4,1

5,2 – 20,0

1,4

Ander

3,9

3,4 – 12,8

1,4

1% van Uitskot – National Animal Health Monitoring Service, 1997. USDA.

Meeste opsommings oor redes vir uitskot, dui uitskot aan as persentasie van koeie wat die kudde verlaat. Dit is egter meer korrek om redes vir uitskot aan te dui as persentasie van diere wat gekalf het.

WANNEER VERLAAT KOEIE ‘n KUDDE?

Daar is ‘n groot verskil in die koste van uitskotdiere afhangende van wanneer hulle die kudde verlaat. Koeie wat die kudde in die eerste 100 dae van laktasie verlaat is in meeste gevalle as gevolg van geforseerde uitskot. Bepaal eerstens hoeveel diere word uitgeskot in die eerste 30 dae na kalwing asook hoeveel voor 100 DIM (Dae In Melk). Alle koeie wat in die eerste 100 DIM uitgeskot word kan teruggevoer word na bestuursprobleme in die oorgangsperiode (3 weke voor kalf tot 3 weke na kalf). Metaboliese of verwante siektes soos melkkoors, plasentale retensie, verplaasde abomasums, ketose, sistiese ovaria en mastitis verhoog die moontlikheid dat ‘n koei uitgeskot kan word. Daar is ‘n groot variasie met betrekking tot redes vir uitskot tussen kuddes. In goed bestuurde kuddes behoort daar minder as 5% koeie in die eerste 30 DIM uitgeskot word en nie meer as 10% in die eerste 100 DIM.

UITSKOT TYDENS UITBREIDING VAN KUDDES

Baie kleiner kuddes in Suid Afrika is aan die verdwyn en groter kuddes word net nog groter. Een van die grootste uitdagings tydens hierdie proses is om te verseker dat die groter wordende kuddes steeds optimale kuddegesondheid sal handhaaf. Die aankoop en inbring van diere met onbekende agtergrond en gesondheidsstatus gee aanleiding tot baie meer siekteprobleme as om diere in te bring met bekende gesondheidstatus. Melkprodusente wil baie keer ten alle koste die maksimum aantal diere melk. Die uitskottempo van aangekoopte diere met onbekende gesondheidstatus is baie keer hoër en die risiko om siekte na die bestaande kudde te versprei verhoog dramaties. Min kuddes in Suid Afrika wat besig is om uit te brei pas enige basiese biosekuriteitsmaatreëls soos kwarantyn en toets vir siektes soos byvoorbeeld BVD draers toe, voor nuwe aankomelinge in ‘n kudde toegelaat word. Verse waarvan die gesondheidsstatus bevestig is, behoort ook ‘n hoër prys te behaal as diere van onbekende oorsprong.

Ander faktore wat verhoogde uitskot tydens uitbreiding van kuddes veroorsaak is mankheid in koeie asook voet en been probleme as gevolg van ontoereikende en/of swak beplande behuising en krale. Uitskot as gevolg van reproduksie neem ook dramaties toe tydens uitbreiding van kuddes – baie tyd word spandeer aan beplanning en kontruksies van nuwe stalle ensovoorts en geen of min aandag word aan basiese aktiwiteite soos hitteobservasie afgestaan. Stres as gevolg van onvoldoende arbeid tydens die ingebruikneming van nuwe geriewe soos melkportale, stalle, behuising ensovoorts kan ook tot verhoogde uitskot aanleiding gee. Verhoogde distokie as gevolg van onbekende bulle wat vir teling gebruik is lei ook tot verhoogde uitskot waar kuddes besig is om uit te brei.

OORMATIGE UITSKOT – DIE BENADERING

Hoë uitskot is baie frusterend vir alle partye betrokke en is ook nie winsgewend nie, veral met kuddes wat aan die uitbrei is. Om die probleem aan te spreek moet die hoekom en waarom koeie uitgeskot word geïdentifiseer word. Hieronder volg ‘n basiese riglyne met ‘n paar aanbevelings om uitskot tot ‘n optimale persentasie te beperk.

  • Definieer die probleem: Alle uitskot is hetsy vrywillig of geforseerd.  Vrywillige uitskot is wanneer koeie verkoop word waar die vervangingsdier finansieel meer werd in die kudde gaan wees as om die swak presteerder te behou. Hoë vrywillige uitskot sal beteken dat hoogproduserende koeie langer in kuddes sal bly – hierdie hoog produserende koeie is egter meer geneig tot mastitis, mankheid en siektes en die produsente sal uiteindelik geforseer word om hierdie koeie uit te skot. Melkprodusente en veeartse moet fokus op die diere wat geforseerd uitgeskot word aangesien hierdie diere die wins dramaties verlaag. Deur diere te verkoop sonder om aandag te gee aan tekorte en probleme rondom bestuur sal slegs die wins verlaag.
  • Uitskottempo: Indien die vrywillige uitskot meer as 35% is, is daar baie ruimte vir verbetering. ‘n Riglyn van tussen 25 en 28% is haalbaar. ‘n Doelwit behoort egter te wees om die geforseerde uitskot tot ‘n minimum te beperk. Koeie wat die kudde voor 30 DIM verlaat is gewoonlik diere wat uitgeskot word as gevolg van gekompliseerde metaboliese probleme of probleme rondom kalwing soos distokie, prolaps uterus, melkkoors, metritis ensovoorts en moet onderskei word van diere wat van hierdie toestande vrek. ‘n Riglyn behoort te wees dat minder as 6% van koeie wat kalf die kudde moet verlaat voor 30 DIM. Koeie wat die kudde voor 100 DIM verlaat is gewoonlik as gevolg van oorgangsprobleme in die peripartale periode. Onderskei hier ook tussen werklike uitskot en vrektes. Minder as 12% van koeie wat kalf behoort uitgeskot te word voor 100 DIM.
  • Bepaal die redes vir uitskot – Om die uitskottempo te verlaag is dit van kardinale belang om die redes vir uitskot te bepaal. ‘n Goed gedefinieerde lys van redes vir uitskot moet opgestel word – dit mag ‘n uitdaging wees, want so byvoorbeeld kan ‘n koei wat 700 DIM is en 150 dae dragtig is met ‘n somatiese seltelling van 500 000 en 15 liter uitgeskot word. Die vraag wat gevra moet word is: Sou hierdie koei uitgeskot wees sou sy betyds dragtig geraak het? Het sy dalk nie op hitte gekom omdat sy seer pote gehad het of mank was nie? Sou ons haar kon hou as haar somatiese seltelling laer gewees het? Het sy dalk nie dragtig geraak nie omdat sy ‘n laegraadse subkliniese metritis gehad het. Tot soveel as 25% koeie sal in die eerste 10 dae na kalwing ‘n temperatuur reaksie toon wat op een of ander post partum probleem kan dui – as daar egter nie ‘n moniteringsprogram in plek is nie sal hierdie temperatuurreaksie nie raakgesien word nie. Baie keer word ‘n koei uitgeskot as gevolg van ‘n kombinasie van faktore maar daar moet baie spesifiek gepoog word om die hoofrede te identifiseer.
  • Kategorieë vir uitskot
    • Vrywillige uitskot: Hierdie is gesonde koeie, maar ‘n nuwe vervangingsdier sal meer winsgewend wees en sal diere insluit wat verkoop word aan ander produsente as melk koeie of as gevolg van lae produksies
      • Mankheid/Pote en bene: Laminitis in vroeë laktasie mag dui op ‘n foutiewe oorgangsrantsoen. ‘n Riglyn behoort te wees dat minder as 5% diere laminitis post partum ontwikkel.
      • Mastitis: Hierdie is koeie wat akute mastitis het of met ‘n chronies verhoogde somatiese seltelling. Indien koeie uitgeskot word as gevolg van mastitis in die eerste 60 dae post partum is dit heel waarskynlik as gevolg van geen of ‘n ontoereikende droë koei program. Minder as 7% koeie behoort te kalf met mastitis of binne die eerste 30 dae post partum mastitis ondervind.
      • Reproduksie: Hierdie is die koeie wat glad nie dragtig raak of binne ‘n voorafbepaalde periode dragtig raak nie. Minder as 7% diere behoort uitgeskot te word as gevolg van reproduksie probleme. Die volgende tabel kan ook nuttig gebruik word as daar ‘n besluite geneem moet word of dit ekonomies geregverdig is om verder te probeer teel met ‘n koei waarmee daar reproduksie probleme ondervind word. Ter illustrasie word die tabel as volg geïnterpreteer: Die koei is reeds in haar vierde laktasie, 205 DIM en nie dragtig nie (Sou sy nou gedek raak en beset word sal haar TKP 485 dae wees). In die tabelle word haar kritiese produksievlakke bepaal (205 DIM en vierde laktasie) = 95. Haar produksie behoort op hierdie tydstip 95% van die kuddegemiddeld te wees om haar nog ekonomies te kan insemineer en haar “verblyf” in die kudde op ekonomiese gronde te regverdig. Sou sy onder hierdie persentasie wees word sy nie geïnsemineer nie en word dan gemelk tot haar melkproduksie nie meer haar “verblyf” regverdig nie, waarna sy uitgeskot word.
  Tydstip van besluit (Dae in Melk)
  85 125 165 205 245
  Kalwingsinterval (dae)
  365 405 445 485 525
Laktasie Kritiese produksievlakke 
1 86 88 90 92 95
2 86 88 90 93 95
3
88 90 92 95 98
4 91 93 95 98 101
5 92 94 97 99 102
7 97 99 103 105 109
10 111 113 117 120 124
  • Oorgangsprobleem koeie: Dit is ‘n wye kategorie maar sal probleme soos plasentale retensie, metritis, verplaasde abomasums, beserings tydens kalwing, koeie wat vrek tydens of direk na kalwing en lae produksies in die periode direk na kalwing insluit. Baie koeie uitgeskot in die eerste 100 DIM val in hierdie groep.
  • Ander: Hier sal slegs daardie siektes of toestande nie hierbo gelys gevind word, soos byvoorbeeld uitskot as gevolg van longontsteking, traumatiese retikulitis, of ander onbekende oorsake. Minder as 2% van diere uitgeskot hoort in hierdie kategorie.
  • Identifiseer die hoofrede vir uitskot en formuleer moontlike oplossings
    • Analiseer die rekords: Indien al die kategorieë hoër is as wat dit behoort te wees fokus op een of twee en probeer eers daardie probleme reg te stel.
    • Verdere ondersoeke moet gedoen word indien ‘n kategorie as ‘n probleem geïdentifiseer word om die redes vir uitskot te bepaal en om moontlike oplossings daar te stel. Hieronder is ‘n voorbeeld van ‘n vloeidiagram om die redes vir uitskot as gevolg van mankheid en poot/been probleme te identifiseer.
  • Ontwikkel ‘n plan van aksie: Werk saam met die ander konsultante (voeding, hoefsmid, ensovoorts) om ‘n plan van aksie daar te stel gebaseer op jou ondersoeke en gevolgtrekkings.
      • Moniteringsplan: Stel sleutel moniteringsplan in plek om die sukses al dan nie van die aanbevelings te monitor en ook om u in staat te stel om voortydig aanpassings te kan maak. In bogenoemde plan sal u byvoorbeeld wil weet hoeveel keer per week word die voetbad werklik gebruik, hoe gereeld word die voetbad skoongemaak, watter persentasie verbetering word waargeneem ensovoorts.
      • Implementeer die plan: Soortgelyke prosesse kan in plek gestel word vir al die ander moontlike redes vir uitskot.
      • Pas gereeld die program aan: dit is belangrik om gereeld u benadering te herevalueer en aanpassings te maak waar en indien nodig

    Hoë uitskottempos kos melkprodusente duisende rande. Daar bestaan ‘n groot leemte met betrekking tot ‘n optimale uitskotbeleid op baie plase en veeartse kan saam met die produsent ’n belangrike rol in hierdie verband speel.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.