SOUTH AFRICA

IMMUNISERING VAN DIE VOLWASSE MELKKOEIKUDDE

Dr Chris van Dijk

Die spreekwoord lui: “Voorkoming is beter as genesing”, maar wanneer ons na kuddegesondheid verwys kan dit effens gewysig word na die volgende: “Siektevoorkoming is krities ten opsigte van ‘n winsgewende melkery - Gesonde beeste is winsgewende beeste”.

Die gebruik van entstowwe berus op die beginsel dat die mens en diere die vermoë besit om teenliggaampies teen siekteverwekkende organismes of hulle produkte (toksiene) op te bou.

Entstowwe bestaan uit 2 groot groepe naamlik lewendige verswakte entstowwe en dooie entstowwe.  Entstowwe word in twee vorms verskaf naamlik vriesgedroog of in vloeibare vorm. Met die  uitsondering van entstowwe teen rooiwater, hartwater en anaplasmose wat lewendige verswakte organismes bevat word al die ander entstowwe wat lewendige organismes bevat gevriesdroog. Lewendige entstowwe is nie baie stabiel wanneer dit vloeibaar gemaak word nie en moet daarom nie aan oormaat sonlig ensovoorts blootgestel word nie en dus ook so gou moontlik ingespuit word nadat dit aangemaak is. Entstowwe wat dooie organismes of die toksiene van organismes bevat is meer stabiel en daarom gewoonlik in 'n vloeibare vorm.

Voordat enige immuniseringsprogram as deel van ‘n volledige kuddegesondheidsprogram oorweeg word behoort verskeie aspekte aandag te geniet. Vrae wat gevra moet word is onder andere die volgende:

  • Watter siektes kom algemeen op u plaas en in u omgewing voor ?
  • Watter prosedures of produkte is beskikbaar om hierdie siektes te voorkom ?
  • Is dit koste effektief om hierdie produkte te gebruik ?

Om hierdie vrae te beantwoord is daar eerstens ‘n akkurate diagnose van siektes noodsaaklik deur gebruik te maak van historiese rekords asook van professionele diagnostiese metodes – u plaaslike veearts kan weer in hierdie opsig van groot hulp wees. Indien die onvermydelike gebeur en ‘n dier word siek en vrek is dit raadsaam om elke keer ‘n nadoodse ondersoek te laat doen. Spandeer liewer ‘n paar rand met die eerste vrekte as wat u wag tot meer as een dier vrek en groot finansïele verliese gelei word.

Die waarde van rekords kan nie oorbeklemtoon word nie. Baie siektes is subklinies en nie met die blote oog sigbaar nie. Deur deeglike rekordhouding kan daar reeds voortydig moontlike tendense of neigings waargeneem word lank voordat ‘n siekte klinies of met die blote oog waarneembaar is. Die volgende aspekte moet as die heel basiese rekordhoudingstelsel op enige melkpplaas beskou word en moet gereeld bygehou word:

  • Toename in die tussenkalwingsinterval
  • Toename in uitskot koeie
  • Duidelike simptome soos neusuitloopsels en diarree
  • Verlaagde voerinname
  • Weiering van water
  • Verhoogde kalwervrektes
  • Afname in melkproduksie

Indien die tussenkalwingsinterval byvoorbeeld toeneem mag dit moontlik dui op een of ander geslagsiekte of selfs ‘n virussiekte. Moderne diagnostiese metodes kan help om die veroorsakende organisme te identifiseer. Daar moet egter onthou word dat daar verskeie ander moontlike oorsake vir swak of suboptimale reproduksie in ‘n kudde is en u word weereens aangeraai om u veearts te kontak om ‘n korrekte diagnose te maak.  Hy sal met sy professionele kennis deur middel van nadoodse ondersoeke en versending van die korrekte monsters en interpretasie van laboratorium uitslae ‘n korrekte diagnose maak en daarvolgense die korrekte voorkomende optrede aanbeveel.

Een van die hulpmiddels in die stryd teen aansteeklike organismes is entstowwe. Daar is baie verskillende entstowwe op die mark en die daarstel van ‘n effektiewe en strategiese immuniserings-program is een van die basiese prioriteite om gesonde diere ten alle tye te verseker. U vra seker hoekom die woord immuniseringsprogram in plaas van die ou bekende, inentingsprogram. Daar is ‘n verskil tussen die twee, naamlik: inenting is die inspuiting van ‘n biologiese produk in ‘n dier, teenoor immunisering wat die proses van inenting behels plus die daarstel van ‘n beskermende immuunreaksie. Daar vind na my mening heeltemal teveel inenting plaas met min werklike immunisering as eindresultaat.

Hoe gaan ons te werk om ‘n strategiese en effektiewe immuniseringsprogram daar te stel:

  • Stel die program in samewerking met u veearts op – hy is ‘n kundige op sy gebied en hy is ook bewus van al die moontlike siektes wat ‘n probleem in u area mag wees. Die immuniseringsprogram behoort ook in te pas by u huidige bestuursisteem.
  • Nadat u en die veearts ‘n tabel opgestel het van die siektes in u area sal u veearts vir u kan aanbeveel teen watter siektes dit verpligtend is  om te immuniseer en watter entstowwe kan as opsioneel beskou word. Stel hierna ‘n tabel watter produkte beskikbaar is, hulle samestelling, eienskappe, voordele, verpakkingsgroottes, dosis en koste/dosis.
  • Koste tot voordeel analises moet beslis gedoen word as entstowwe oorweeg word, maar u sal gewoonlik vind dat die koste van die entstowwe minimaal is teen al die ander uitgawes in ‘n melkkudde.
  • Differensieer en identifiseer elke groep diere in u kudde (met ander woorde jong kalwers, jong verse, dragtige verse, dragtige koeie, droë koeie ensovoorts) waarvan die bestuursbehoeftes verskil ten opsigte van onder andere siekte voorkoming.
  • Stel ‘n aksielys op vir elkeen van die groepe vir die volgende 12 maande spesifiek ten opsigte van inentings wat gedoen moet word asook die begroting daarvoor.
  • Inkorporeer die immuniseringsprogram in ‘n totale Kuddegesondheidsbestuursprogram wat ‘n oorsig gee van al die aksies vir die volgende 12 maande.

Ander belangrike aspekte om in gedagte te hou:

  • Ons moet altyd onthou dat entstowwe 'n biologiese produk is wat streng volgens voorskrif bewaar,  hanteer en gebruik moet word.
  • Absolute steriliteit met die opmaak en inspuit van entstowwe is ook baie belangrik.  Vuil naalde ensovoorts kan onnodige swellings en verswering by spuitplekke veroorsaak, asook septisemie (bloedvergiftiging) met selfs uiteindelike dood van die dier.
  • Dikwels word die vraag gevra? “Hoeveel entstowwe kan gelyktydig toegedien word". As 'n basiese riglyn kan 'n mens die volgende in gedagte hou.
  • Enige 2 (twee) entstowwe kan gelyktydig toegedien word maar nie meer as twee nie. Kombinasie entstowwe wat deesdae beskikbaar is word as een entstof beskou. Hartwater moet verkieslik alleen gespuit word maar in noodgevalle saam met enige ander entstof behalwe teen Anaplasmose (Bosluisgalsiekte ).
  • Dit word nie aanbeveel om gelyktydig te ent, doseer en te  dip nie.

Baie keer word die stelling gemaak dat entstowwe ondoeltreffend is. Die volgende sal die aspek in meer perspektief stel.

Dit is ongelukkig so dat geen entstof 100% doeltreffend is by alle diere nie.  Daar is verskeie faktore en redes vir hierdie skynbare ondoeltreffendheid wat ek net kortliks sal bespreek.

  • Entstowwe word berei van die organismes wat die spesifieke siekte veroorsaak en die entstof is dus 'n bederfbare biologiese produk. Die bergingstemperature van 'n betrokke entstof moet dus nougeset nagekom word en entstowwe moet nooit na die vervaldatum op die bottel gebruik word nie.
  • 'n Baie erge infeksie van 'n spesifieke organisme kan 'n immuniteit wat deur 'n entstof opgebou is vernietig. Hier dink mens veral aan siektes soos brucellose en kalwer paratifus. Gesonde boerderypraktyke en higïene bly dus nog steeds belangrik al is die diere geïmmuniseer.
  • Sekere virusse en bakterieë bestaan uit verskillende tipes of stamme en dit is daarom soms onmoontlik om 'n entstof te vervaardig wat 'n immuniteit teen al die tipes sal verwek. Voorbeelde van sulke siektes is byvoorbeeld Beesvirusdiarree (BVD), bloutong, kolibasillose (wit lakseer) en pasteurellose (bontlong).
  • Alle entstowwe gee nie 'n lewenslange immuniteit nie en daarom moet skraagdosisse of versterkingsinspuitings streng volgens voorskrif gegee word. Veral dooie entstowwe moet gewoonlik 2 tot 4 weke na mekaar met die aanvanklike immunisering toegedien word en dan op ‘n jaarlikse of selfs korter basis herhaal word.
  • Sekere entstowwe is ontwikkel om slegs as hulpmiddel te dien vir die bekamping van sekere siektes byvoorbeeld Escherichia coli en die Corynebacterium entstowwe.Diere reageer onbevredigend op sulke entstowwe en die gevolglike immuniteit is relatief swak. Predisponerende of aanleidende faktore tot sulke siektes moet dus ook reggestel word.

Uit bogenoemde kan u dus sien dat die korrekte en  oordeelkundige gebruik van entstowwe nodig is om maksimum  voordeel daaruit te trek en ten spyte van sommige knelpunte is 'n deeglike en volgehoue inentingsprogram onontbeerlik vir diegene wat 'n suksesvolle melkery wil bedryf.

Vir verdere besonderhede en meer spesifieke immuniseringsprogramme kontak gerus u kuddeveearts.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.