SOUTH AFRICA

KAN ‘n VLIEG mastitis veroorsaak?

Dr Chris van Dijk

Vlieë word deur meeste melkprodusente as niks meer as ‘n lastigheid op ‘n melkplaas beskou nie maar hulle kan verantwoordelik wees vir verskeie probleme soos onder andere mastitis. As vlieë onbeperk kan aanteel sal hulle baie gou kritiese afmetings afneem. Daar sal kortliks na ‘n paar algemene aspekte rondom vlieë verwys word en dan sal ook een of twee metodes bespreek word om hierdie lastigheid op enige melkplaas tot ‘n hanteerbare minimum te beperk.

Die lewenssiklus van die vlieg:

  • Vliegeiers: Die wyfie vlieg lê tussen 700 en 1000 eiers op ‘n slag. Larwes broei dan uit hierdie eiers.
  • Vlieg larwes of papies: Die larwe (soms na verwys as maaiers) het ‘n baie kort lewenssiklus en verander dan in ‘n papie.
  • Volwasse vlieg: Die volgende volwasse vlieg broei uit die papie en sal baie vinnig weer eiers begin lê. Tien tot 30 generasies vlieë kan per jaar uit een vlieg ontstaan.

Die voorstelling hieronder stel die lewenssiklus voor: Die volwasse vlieg lê eiers, die larwe ontwikkel hieruit en verander in ‘n papie met die volgende vlieg wat weer uit die papie voorkom.

Watter effek het vlieë op melkbeeste

Met nie-bytende vlieë is daar behalwe die irriterende effek wat hierdie vlieë op beeste het veral waar beeste moet vreet ook die oordraging van verskeie virus en bakteriese siektes. Hierdie vlieë se voedingsmetode naamlik, die vooraf vertering van voedsel deur daarop te vomeer, gekoppel aan defekasie deur die vlieg ongeveer elke 5 minute dra by tot die verspreiding van siektes in ‘n melkstal.
Sekere bytende vlieë word geassosieer met Staphylococcus aureus mastitis veral in verse. Hierdie vlieë veroorsaak velletsels op die spene van verse en koeie. Die bakterieë word dan tydens die voedingsproses van die vlieg oorgedra en op hierdie manier kan S aureus ‘n kudde binnekom waar dit nooit voorheen ‘n probleem was nie of dit kan bydra om die bakterieë van koei tot koei te versprei. In kuddes waar S aureus dus ‘n probleem is moet daar ook definitief aan vliegbeheer aandag gegee word om die probleem onder beheer te kry.

Beheer:
Niks kan goeie higiëne vervang nie. Deur net die mis gereeld te verwyder sal byvoorbeeld nie voldoende wees om die lewensiklus van meeste vlieë te breek nie – chemiese hulpmiddels soos plaagdoders hetsy as opgietmiddels of in sakke, biologiese beheer, meganiese beheer soos vliegvangers is als moontlikhede wat oorweeg moet word om die probleem onder beheer te kry. Met chemiese middels moet daar ook altyd gelet word op die melkontrekkingperiode na gebruik.

Die basis van enige beheerprogram sal wees om die aantal vlieë onder die ekonomiese drumpelwaarde en irritasievlak te kry. Daar is middels beskikbaar op die mark wat larf groei onderdruk en ook volwasse vlieë doodmaak en dus die lewenssiklus op twee punte onderbreek. Die voordeel van hierdie benadering is dat verskillende chemiese groepe (organofosfate, karbamate en insekgroei reguleerders) gebruik word en daar dus baie minder moontlikheid vir die ontstaan van weerstand teen die middels is.

 

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.