SOUTH AFRICA

Kliniese Ondersoek van `n Bees

“Dit is fundamenteel dat mens die normale moet kan observeer voordat ons die abnormale sal observeer en ook dat baie verkeerde diagnoses gemaak word, nie deurdat ons nie weet nie, maar deurdat ons nie kyk nie”.

Dit gebeur soms dat `n veearts nie dadelik beskikbaar is nie en dat die produsent self `n bees moet ondersoek. Hierna volg `n basiese prosedure wat u kan toepas. Dit moet beklemtoon word dat dit dit nie die belangrike rol wat net die veearts kan vervul, vervang nie. Dit sal vir u ‘n basis gee waarvolgens u kan besluit hoe dringend u veeartshulp sal benodig. U kan dan telefonies met u veearts kontak en die waarnemings aan hom deurgee, waarna hy dan telefonies kan help tot tyd en wyl hy die dier kan besoek.

GESKIEDENIS

Die heel eerste en die belangrikste aspek is ‘n volledige geskiedenis van die dier ter sprake, soos ouderdom, geslag, ras, stadium van laktasie en vlak van produksie. Indien u rekords en rekordhouding op datum is sal hierdie aspekte amper vanselfsprekend wees.

Die kliniese simptome, die aantal diere betrokke, die totale val in produksie, verandering in produksie, onlangse inentings en ook of daar enige diere onlangs aangekoop is, is ander belangrike geskiedenis wat van belang mag wees.

Die omgewing waar die diere loop (kamp) moet ook deurgeloop word en daar moet vir enige abnormaliteite soos gifstowwe, gifplante ensovoorts gekyk word. Die bron van water sal sekerlik aan u bekend wees, maar maak net seker dat die diere wel drink waar hulle moet.

Na al bogenoemde kan die werklike ondersoek nou begin. Terwyl die dier aangejaag word drukgang toe, kyk na die beweging – dalk word een poot minder gebruik as ‘n ander. Kyk na die dier se houding – is sy wakker – is die oë gesonke – is die pens abnormaal geswel?

Met die dier in ‘n geskikte drukgang kan die werklike ondersoek nou begin. Daar kan nou na 5 verskillende “stasies” gekyk word. Die vyf “stasies”, naamlik die agterkant, linkerkant van die dier, die regterkant, kop en nek en weer die agterkant moet altyd in dieselfde volgorde ondersoek word om te verseker dat geen deel van dier onaangeraak gelaat word nie.

Die Agterkant: Dit is miskien ‘n snaakse plek om te begin, maar die heel eerste en belangrikste is om die dier se temperatuur te bepaal. So kan aansteeklike siektes gewoonlik van ander siektes onderskei word. Die normale temperatuur vir ‘n koei is ongeveer 38,5 o C. Terwyl die temperatuur geneem word kan die kleur van die slymvliese in en die teenwoordigheid van enige uitloopsels vanuit die uitwendige geslagsorgane van die koei ook beoordeel word. Baiekeer op hierdie stadium van die ondersoek sal die koei self urineer – kyk na veral die kleur van die uriene. Die kleur van die vel en kondisie van die hare en die algemene kondisie kan ook nou beoordeel word.

Die Linkerkant: Aan die linkerkant is daar min wat u werklik self kan ondersoek indien ‘n mens nie ‘n stetoskoop het om die longe en hart te beoordeel nie. U kan egter die aantal keer wat die bees asemhaal per minuut bepaal – die normale asemhalingstempo is 25-30 per minuut. U kan ook na die linkerhongerholte (die area tussen die agterkant van die ribbes en die voorste boonste gedeelte van die agterbeen) kyk en die bewegings van die grootpens (normaal ongeveer een sametrekking per minuut) asook vulling van die hongerholte beoordeel. ‘n Opgeblaasde bees sal tipies ‘n baie groot uitstulping in hierdie area toon met ‘n tromagtige klank as gevolg van die oormatige gasaansameling in die grootpens.

Die Regterkant: Die regterkant se ondersoek is soortgelyk as die van die linkerkant.

Die Kop en Nek: U kan nou na die voorkant van die dier beweeg. Die borsbeen en nekareas moet vir enige swellings ondersoek word. Kyk ook na die polstempo van die nekaar. U veearts kan dalk ook vir u wys waar om die preskapulêre limfklier te vind – sommige van ons virussiektes word geassosieer met vergrote limfkliere. Daar is egter ook ‘n klomp ander redes hoekom limfkliere kan vergroot.

Daar moet ook gekyk word of die kop simmetries is, of daar enige abnormale swellings is. Die neusspieël, bek en binnekant van die bek moet ook ondersoek word. Moet net nooit u hand in ‘n bees se bek sit indien daar enige moontlikheid van hondsdolheid is nie.

Die oë moet ook in detail ondersoek word en daar moet veral op die graad van ontwatering en die kleur van die slymvliese gelet word. Bloedsmere kan ook op hierdie stadium vanaf die oorpunt geneem word vir latere ontleding deur u veearts.

Die Agterkant – herbesoek: Nadat bogenoemde 4 “stasies” besoek is kan u weer terugkeer na die stertkant. Die uier en spene kan nou in detail ondersoek word vir enige tekens van swelling, pyn en ongemak wat moontlik kan dui op mastitis. Melkmonsters kan nou ook geneem word vir latere ontleding in ‘n laboratorium. ‘n Inwendige ondersoek vorm ook deel van ‘n kliniese ondersoek maar dit moet deur ‘n veearts gedoen word. Dragtigheid word gewoonlik nou bevestig en enige abnormaliteite in die bekken word aangeteken. U behoort ook op hierdie stadium na die voorkoms van die mis te let.

Soos u kan sien word ‘n spesifieke metode gevolg om te voorkom dat enige orgaan of orgaanstelsel dalk oorgeslaan word.

U veearts as opgeleide wetenskaplike is en bly steeds die persoon om die korrekte behandeling toe te pas of aan te beveel nadat hy ‘n dier volledig ondersoek het.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.