SOUTH AFRICA

Melkkuddegesondheid en Ekonomie

Verskeie studies is die afgelope aantal jare onderneem om die invloed van melkkuddeprogramme op die totale ekonomie van melkkuddes te beklemtoon. Baie data is versamel ter ondersteuning van die teorie dat om aan 'n kuddegesondheidsprogra m deel te neem 'n ekonomiese voordeel vir die suiwelboer inhou. Baie van die data is egter deur navorsers aan byvoorbeeld universiteite versamel en dit is soms moeilik om van hierdie data na die praktyk te ekstrapoleer en te gebruik.

In die verlede was dit maklik om ekonomiese besluite met betrekking tot dieresiektebeheer uit te oefen omdat die verliese baie groter was as om byvoorbeeld die siekte te beheer. Hier dink ons byvoorbeeld aan siektes soos runderpes en bek en klouseer. Huidiglik is die situasie egter baie meer kompleks. Die kontrole en beheer van siektes soos tuberkulose en brucellose en ander areas soos mastitis en vrugbaarheidsprestasie onder andere is baie meer kompleks as gevolg van verskeie faktore, onder andere die veranderde algemene epidemiologiese patroon in populasie en kuddestruktuur en ook die gepaardgaande veranderde kuddebestuur en beheer.

'n Geïntegreerde benadering waar 'n dinamiese tipe epidemiologie gekoppel is aan 'n ekonomiese analise is nodig om die aard en omvang van elke gesondheidsprobleem en ekonomiese implikasies te bestudeer.

Die toepassing van ekonomiese analise is 'n logiese uitvloeisel in bogenoemde benadering. Die analise het egter baie meer probleme as soortgelyke studies in ander velde. Dit is deels omdat ekonomiese tegnieke nie goed aangepas of aanpasbaar is in die onsekere biologiese werksveld nie en ook omdat veeartse gewoonlik nie bewus is van ekonomiese beginsels en tegnieke van toepassing op hulle spesifieke werksveld nie.

In voorkomende kuddegesondheidsprogramme kan die veearts van die heel basiese vlak betrokke raak. Deur die ekonomiese belang van veral subkliniese siektes en toestande te beklemtoon kan 'n veearts betrokke raak by kuddeprogramme en ook betrokke bly. Hier word gedink aan die evaluasie van alle faktore soos kostes en voordele wat 'n spesifieke program sal inhou. Baie van die faktore kan in monetêre terme soos rand en sent gemeet word, ander faktore daarenteen moet van 'n heel ander hoek benader word, omdat die kostes en voordele 'n heel ander waarde het as wat byvoorbeeld daarvoor betaal sal word. Hier dink ons byvoorbeeld aan meer effektiewe produksie, waar minder diere dieselfde of meer produseer as 'n groot aantal diere.

Dit is maklik om 'n waarde toe te ken aan byvoorbeeld 'n keisersnee op 'n koei. Beide die koei en kalf het 'n meetbare monetêre waarde. Dit is gewoonlik nie die gevalle wat deur die boer bevraagteken word nie. Die bevordering en ekonomiese evaluasie van kuddegesondheidsprogramme is baie meer problematies.

Sulke programme poog om produksie en reproduksie tot die hoogs moontlike vlakke te bevorder. Maksimale vlakke is egter nie altyd die winsgewendste nie en daar moet dus eerder op optimale produksie en reproduksie klem gele word.

Die sogenaamde "brandweer" veeartsenykunde sal altyd deel van 'n voedseldierpraktisyn se taak bly. Baie dienste tradisioneel deur 'n veearts gelewer word egter deesdae deur die boer self of sy werknemers gedoen en daarom is dit belangrik om by kuddegesondheidsprogramme betrokke te raak.

Om hierdie programme ekonomies te evalueer is rekords van kardinale belang. Sonder rekords kan geen vordering gemeet word nie en gaan dit ook moeilik wees om die boer van enige voordele te oortuig.

Die hoofdoel van 'n kuddeprogram is om 'n skakeling tussen gesondheid, bestuur, ekonomie en ander landbou dissiplines daar te stel wat uiteindelik nie net tot voordeel van die boer maar ook tot voordeel van die veearts gaan wees.

Wanneer ons kyk na die ekonomiese implikasies van een van die aspekte van 'n kuddegesondheidsprogram naamlik vrugbaarheidsprestasie kan die normale verloop van 'n koei se reproduksiesiklus vanaf haar geboorte tot die uiteindelike geboortes van haar kalwers as basis vir die bespreking dien. Die monitering en evaluasie van vrugbaarheidsprestasie kan beskou word as een van die belangrikste boustene van kuddegesondheids en bestuursprogramme.

Daar sal kortliks na ‘n paar ekonomiese aspekte verwys word.

EKONOMIE VAN OUDERDOM MET EERSTE KALWING

Die optimale ouderdom vir eerste kalwing vir maksimale totale lewensdagproduksie is 22,5 tot 23,5 maande. Laasgenoemde het 'n definitiewe invloed op die totale lewensproduksie wat ook deur die aantal dae oop en volharding van produksie beinvloed word. Indien 'n koei kalf na bostaande ouderdomme sal dit vanselfsprekend wees dat 'n vers wat op 22 maande kalf meer kalwers sal produseer in haar hele lewe as 'n vers wat eers later kalf.

EKONOMIE VAN TUSSENKALWINGSPERIODE (TKP)

Hierdie onderwerp is baie kontroversieël in die sin dat daar ‘n klomp voorstanders van die ou benadering is om ‘n kalf elke jaar te “produseer” en dan die kamp wat die standpunt huldig dat dit nie die geval is nie. Die kalf is die begin van nog 'n laktasie siklus wat die spil is waarom suiwelboerdery draai en afhangende van die kalf se genetiese potensiaal mag hy of sy van ekonomiese belang wees. Verskeie faktore speel 'n rol in 'n optimale TKP en nie net die veearts maar ook die boer en sy werkers moet bewus wees en gemaak word van die punte van belang om die optimale TKP daar te stel.

EKONOMIE VAN DAE OOP (DAE VAN KALWING TOT KONSEPSIE)

Ekonomiese waardes is deur werkers aan dae oop toegeken maar min bestaan in die literatuur oor die effek van dae oop op dae in melk, volharding van produksie en melk per dag van kalwingsinterval. Volharding van produksie word beinvloed deur ouderdom, seisoen, produksie, voeding en genotipe. Produksie is 'n meetbare eienskap en formules bestaan om die invloed van dae oop op lewensproduksie te demonstreer.

EKONOMIE VAN UITSKOT

Voortydige uitskot vir enige ander rede anders as lae produksie beteken 'n finansiele verlies vir die suiwelboer. Die uitskot van koeie vir lae produksie moet alreeds tydens die eerste en op die laatste tydens die tweede laktasie gedoen word.

Geforseerde uitskot van koeie as gevolg van vrugbaarheidsprobleme, mastitis, beserings en ander siektetoestande moet tot 'n minimum beperk word en definitief onder die doelwit van 10 % wees.

Selektiewe uitskot as gevolg van uierkonformasie, voete, bene, melktempo en lae produksie kan slegs in kuddes met goeie bestuur toegepas word. Hier is 'n redelike doelwit 15 % .

EKONOMIE VAN LEWENSPRODUKSIE

Wins per koei, per hektaar en per plaas is die eerste mikpunt in enige suiwelboerdery. Sommige boere sien verkeerdelik hoë melkopbrengs of maksimum veelading as winsgewende faktore.

Lewensproduksie begin reeds in die nie produktiewe stadium wat strek van geboorte van 'n vers tot eerste kalwing en moet dus as 'n oorhoofse koste van die suiwelkudde in ag geneem word. Die ouderdom van die vers met eerste kalwing is dus uiters belangrik.

EKONOMIE VAN KALWINGSPATROON

Vir ekonomiese lewensproduksie moet 'n vers op die regte tyd van die jaar gebore word. (Vgl. voedingstelsels en beskikbare voer met kalwing). Dit is onekonomies om 'n vers net met aangekoopte voere groot te maak. Indien sodanige vers op twee jaar en elke jaar daarna gereeld kalf en sy word vir optimale ekonomiese melkopbrengs gevoer sal sy 'n maksimum winsgewende bydrae tot die kudde kan lewer. Die optimale ekonomiese kalwingstyd sal dus wees wanneer die kalwingstyd gekorreleer kan word met die groeiseisoen van beskikbare voergewasse. Die prys van melk en koste van konsentrate moet ook in ag geneem word met besluitneming oor 'n kalwingspatroon.

EKONOMIE VAN KALFVERLIESE

Indien koeie 'n lang TKP het sal die aantal kalwers vir vervanging of verkoop verminder.

EKONOMIESE INVLOED VAN METRITIS EN PLASENTALE RETENSIE

Ekonomiese verliese as gevolg van lae vrugbaarheidsprestasie is groot en een van die faktore wat hiertoe kan bydrae is plasentale retensie veral as dit gevolg word deur 'n metritis en soms sistiese ovaria. Die gevolge is 'n afname in konsepsie na eerste dekking, 'n toename in KI per konsepsie, 'n toename in oop dae met gevolglike langer TKP, hoër uitskot en verlies in melkproduksie.

EKONOMIE VAN HERHAALDE TELERS

Herhaalde telers (repeat breeders) is daardie diere met gereelde estrussiklusse, wat normaal voorkom met 'n oppervlakkige kliniese ondersoek maar nie dragtig is na drie of meer dekkings nie. 'n Insidens van 10 tot 25 % herhaalde telers kom in kuddes voor. Herhaalde telers is soms net 'n tydelik probleem en konsepsie vind wel by die vierde dekking plaas. Ekonomiese verliese is egter baie groot by herhaalde telers as gevolg van ekstra oop dae, ekstra inseminasies, ekstra veeartsenykoste en verliese as gevolg van uitskotte.

EKONOMIE VAN TELINGSKOSTE

HITTE OBSERVASIE

Hitte observasie is gewoonlik die eerste stap in 'n suksesvolle KI program. Oorslaan van hittes of verkeerdelike hitte observasies sal lei tot 'n verhoogde kalwing tot konsepsie syfer.

In meeste gevalle lei dit tot verlaagde melkopbrengs per koei en uiteindelik kan dit lei tot voortydige uitskot as gevolg van swak konsepsietempo. Swak hitte observasies dra baie by tot lae konsepsie en is 'n bestuursaspek wat definitief aangespreek moet word.

KONSEPSIETEMPO

Vrugbaarheid gaan nou saam met konsepsietempo en 'n afname in vrugbaarheid lei tot : · Ekstra inseminasies en veeartskoste · Toename in lengte van huidige laktasie · Toename in uitskot · Veranderings in toekomstige laktasies

Die laaste twee punte is die belangrikste. 'n Toename in uitskot verhoog vervangingskoste en 'n groter persentasie diere wat minder produseer kom dan in die kudde in. Hierdie verliese word slegs gedeeltelik vergoed deur geld gemaak met uitslag van onvrugbare koeie. Dit neem gladnie eers die genetiese verliese in ag nie.

Die ekonomiese waarde van vrugbaarheid kan beskou word as die som van bogenoemde vier punte wat elkeen afsonderlik maar ook gesamentlik 'n rol speel. Baie faktore soos dae oop, TKP of aantal dekkings hang baie van die boer self af en met 'n konstante vrugbaarheidsvlak en 'n streng uitskotbeleid kan bogenoemde verbeter word. Die faktor konsepsie per inseminasie kan nie deur uitskot gemanipuleer word nie en kan daarom 'n aanduiding van vrugbaarheid gee.

Die verliese as gevolg van swak hitte observasies en lae konsepsietempos kan ook gebruik word om 'n kuddeprogram te bemark. Konsepsie hang van verskeie faktore af naamlik: hitte observasie, korrekte KI tyd, semenhantering en KI tegniek.

KUNSMATIGE INSEMINASIE

Die kostes met 'n KI program kan baie hoog word indien verskeie aspekte nie opitmaal ingespan word nie. Die gemiddelde doelwit inseminasies per konsepsie is optimaal 1,6.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.