SOUTH AFRICA

Monitering van anioniese soute in die droë koei rantsoen

Dr Chris van Dijk

Die balansering van droë koei rantsoene deur gebruik te maak van die dieet katioon-anioon verskil (DKAV) deur anioonsoute by die rantsoen te voeg, blyk ‘n praktiese metode te wees om kalsiumtekort verwante probleme (melkkoors, plasentale retensie ensovoorts) te voorkom.  Deur die byvoeging van anioniesesoute (chloor en swael) onstaan ‘n matige metaboliese asidose (aansuring van bloed pH) en kalsium raak meer beskikbaar, veral vir die koei wat pas gekalf het. Hierdie metaboliese asidose gee aanleiding tot ‘n verlaging in die urine pH.

Die normale pH van beesuriene is redelik hoog (> 8). Sodra anioniese soute gevoer word verlaag die pH. Urien pH kan nie gebruik word om te bepaal of individuele koeie hipokalsemies (laag in kalsium) sal raak nie.  Die urien pH wat sal dui op voldoende aansuring van die bloed is ook nog nie bepaal nie. Navorsers het egter al reeds die onderstaande tabel voorgestel as riglyn om anioniese voedingsprogramme te help monitor.

Die ideaal is om die urien pH met 'n pH meter te bepaal, maar ‘n eenvoudige metode is om met urienstrokies (by u veearts verkrygbaar) die pH van vryvloeiende uriene te bepaal. Oormatige besoedeling met mis en blootstelling aan hoë temperature en vog van hierdie strokies mag egter foutiewe lesings gee. Die korrekte stoor van hierdie pH strokies is uiters belangrik.

Hoë urien pH (alkalies) beteken nie noodwendig dat ‘n koei ‘n hoër risiko vir melkkoors as die volgende koei is nie. Baie kuddes het ‘n lae voorkoms van melkkoors sonder die gebruik van anioniese soute, maar indien anioniese soute wel gebruik word, sal metaboliese asidose en suur urine wel verwag word.

Op ‘n kuddebasis (met ander woorde meer as een dier wat anioniese soute ontvang, se urien pH word bepaal) kan aanvaar word dat die anioniese soute nie korrek gevoer word nie as die pH hoog (alkalies) bly. By hierdie koeie bestaan daar steeds ‘n melkkoors risiko. Indien anioniesesoute korrek gevoer word behoort die urien pH konstant tussen 6 en 7 te wees.  Oormatige aansuring van die rantsoen sal aanleiding gee tot ‘n pH laer as 6.  Oormatige aansuring is nie noodwendig nadelig vir die koei nie, maar dit is onekonomies om duur anioniesesoute op hierdie manier te voer. Daar anioniesesoute baie onsmaaklik is en aanleiding gee tot verlaagde droëmateriaal inname op ‘n stadium (net voor kalwing) waar ons dit juis wil verhoed moet net die korrekte hoeveelheid gevoer word.

Baie produsente voer anioniesesoute sonder dat die DKAV van die rantsoen bepaal is en na my mening behoort die DKAV eers bepaal word alvorens anioniesesoute enigsins oorweeg word. As anioniesesoute wel nodig is om die DKAV te verlaag, kan die gebruik daarvan deur middel van monitering van urien pH geskied.

‘n Hoë urien pH kan dui op foutiewe rantsoenformulering, ‘n mengfout of selfs ‘n probleem met innames. Aangekoopte voere soos lusern verskil baie keer in veral die kaliumvlakke en aanpassings in die hoeveelheid anioniese soute moet voortydig gedoen word om probleme te voorkom.

Produsente kan die relatief eenvoudige en goedkoop metode dus gebruik om die voer van anioniesesoute te monitor. U veearts of voedingskundige kan nog meer inligting verskaf.

VOORGESTELDE INTERPRETASIES VAN URIEN pH IN DIE DROë KOEI WAT ANIONIESESOUTE  ONTVANG

URIEN pH

INTERPRETASIE

> 8

Normale koei uriene (geen metaboliese asidose) Risiko van melkkoors bly bestaan

6 –7 (5,5 – 6,5 vir Jerseys)

Optimale vlak van metaboliese asidose om melkkoors te voorkom

< 6 (< 5,5 vir Jerseys)

Oormatige aansuring, verwydering van ‘n hoeveelheid anioniese soute uit die rantsoen kan oorweeg word.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.