SOUTH AFRICA

Varskoei Baarmoeder Gesondheid: Besluite en dilemmas

Dr Chris van Dijk

Suiwelprodusente en veeartse moet diwels besluite neem rondom behandelingsprotokolle vir baarmoederinfeksies – om te behandel of om nie te behandel nie - en word dan gekonfronteer met vrae soos: Is dit ekonomies geregverdig, sal die koei weer kan kalf en wat van antibiotika reste in die melk na behandeling?

Wat is Baarmoederinfeksie? Die interne wand van die baarmoeder is na kalwing gedurig in kontak met vloeistowwe en oorblyfsels van die plasenta (nageboorte) wat bakteriese groei bevorder. In tot soveel as 90% van koeie vind daar bakteriese kontaminasie veral vanuit die omgewing in die eerste week na kalwing plaas en afhangende van die aantal en die virulensie van die bakteriese kontaminasie asook die status van die baarmoeder (beserings ensovoorts) en ’n  met ‘n verswakte inherente verdedigingsmeganismes van die koei (slym, witbloedselle en teenliggaampies) mag ’n baarmoederinfeksie ontwikkel. In ‘n “normale” koei sal hierdie kontaminasie oor ’n periode van 6 weke deur die liggaam deur die normale involusie proses (herstel na normaal) van die baarmoeder “uitgewerk” word. Metaboliese probleme soos lae kalsiumvlakke (melkkoors) en lae energievlakke (ketose) mag ook bydra tot die ontstaan van ’n infeksie in die baarmoeder. ’n Koei is weer vrugbaar ongeveer 40-50 dae na kalwing in ’n normale gesonde koei maar met ’n baarmoederinfeksie kan die koei vir lang periodes en selfs permanent onvrugbaar wees. Baarmoederinfeksie speel ook ’n groot rol in verlaagde droë materiaal inname en gevolglike verlaagde melkproduksie en die probleem moet sover moontlik voorkom word.

Die vraag is moet hierdie koeie behandel word?

Jodium en ander kombinasie middels word dikwels as roetine behandeling van “vuil” baarmoeders gebruik. Verskeie studies het getoon dat hierdie pratyk meer nadelig as voordelig vir ’n koei is – om ’n “irriterende” produk in ’n baarmoeder waarvan die wand reeds beskadig is deur inflammasie te plaas doen ons in die  meeste gevalle meer kwaad as goed.

’n Ander praktyk is om tetrasikliene en ander antibiotika direk in die baarmoeder te plaas. Feitlik geen van hierdie produkte is vir sodanige gebruik geregistreer nie en dit mag aanleiding tot onwettige antibiotika reste in die melk gee. In ’n studie waar 5 gram tetrasiklien vir 2 dae in die baarmoeder geplaas is, was daar in sommige koeie vir tot soveel as 6 dae na behandeling te hoë vlakke tetrasiklien in die melk. Die respons met antibiotika in die baarmoeder van koeie met baarmoeder beserings of ander skade is ook relatief swak.

Daar is ’n inspuitbare antibiotika op die mark wat goeie, betroubare resultate lewer indien dit korrek gebruik word met die verdere voordeel dat die melk gebruik kan word in behandelde koeie – gesels gerus met u veearts daaroor.

Alternatiewe behandelings waar produkte soos die prostaglandiene gebruik word is ook ’n effektiewe en bekostigbare alternatief tot antibiotika behandeling in koeie met baarmoederinfeksie mits die koei nie sistemies siek is nie. Koeie wat moeilik gekalf het en met prostaglandiene behandel is het tot 5 minder oop dae gehad teenoor koeie wat moeilik gekalf het maar nie behandel is nie. In kuddes waar die dae oop na kalwing gemiddeld minder as 100 dae is, is dit nie ekonomies geregverdig om prostaglandiene as roetine behandeling te gebruik nie. In kuddes met meer as 100 dae oop sal daar voordelige reaksies wees indien die prostaglandiene tweekeer met ‘n 14 dae interval tussen dag 14 en dag 28 na kalwing toegedien is.

Produsente moet nie nou dadelik na die medisyne bottels gryp en dink dit gaan alle probleme oplos nie: metaboliese probleme wat baiekeer deur foutiewe voeding veral in die droë periode aangehelp word mag ook direk en indirek tot baarmoeder probleme aanleiding gee. Vassit nageboortes en metritis is ’n multifaktoriale toestand en faktore soos tweelinge, aansteeklike siektes, stres voedingswanbalanse mag ook tot baarmoeder probleme aanleiding gee.

Kontak gerus u kuddeveearts vir meer inligting!

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.