SOUTH AFRICA

Vrae oor BVD entstowwe?

Dr Chris van Dijk

Die volgende stelling is in 1992 deur Dubovi, een van die kenners van Bees Virus Diarree of BVD in die VSA gemaak: “The recognition of an apparently new transmissible disease of cattle by Olafson et al in 1946, established the beginning of the confusing, contradictory, but fascinating history of pestivirus infections in ruminants”. Dit toon duidelik aan ons die teenstrydighede en verwarring wat daar rondom BVD in beeste bestaan.

Vandag weet ons baie meer oor die siekte as in 1992 maar daar is steeds verwarring en teenstrydige kommentaar oor hierdie siekte wat in my opinie ‘n baie groter probleem op meeste plase is as wat ons graag wil erken. Ek deel graag met u ‘n paar bekende en dalk vir sommige persone onbekende feite oor die entstowwe teen hierdie siekte.

U as produsent moet gewoonlik saam of op aanbeveling van u veearts ‘n keuse maak oor watter tipe entstof teen BVD u in u kudde moet gebruik. Hou asseblief die volgende in gedagte met keuses ten opsigte van BVD entstowwe

  • As ek ent moet ek ‘n lewendige of ‘n dooie entstof gebruik?  Lewendige entstowwe moet by voorkeur gebruik word aangesien ons ‘n baie beter lokale (op die slymvlies), humorale (in die bloed) en selbemiddelde immuniteit met hierdie entstowwe teenoor die dooie entstowwe kan verwag. Lewende BVD entstowwe is ook gewoonlik goedkoper as die dooie entstowwe Daar is egter die nadeel dat lewende entstowwe nie in dragtige diere gebruik kan word nie, aangesien dit aborsies kan veroorsaak
  • Kan lewendige BVD entstowwe in kalwers gebruik word wat saam met dragtige koeie loop? Die antwoord is ja, maar nie met alle entstowwe tans beskikbaar op die mark nie, aangesien nie alle entstowwe getoets is om op die manier gebruik te word nie. Na enting met ‘n lewendige BVD entstof vermenigvuldig die lewende virus in die geënte dier onder andere in die boonste lugweë. Oordraging vanuit die neusgange is ‘n hoogs oneffektiewe metode van oordraging en sou daar klein hoeveelhede entstof virus afgeskei word sal dit geen effek in ‘n korrek geïmmuniseerde (beskermde) koei hê nie. U veearts of die entstof maatskappy sal ‘n antwoord met betrekking tot die spesifieke entstowwe kan verskaf en of u dit wel in kalwers kan gebruik wat saam met koeie loop.
  • Is BVD  titers wat bepaal word uit bloedmonsters van geënte koeie ‘n aanduiding of koeie beskerm is teen BVD of anders gestel het die entstof gewerk? Titers word soms gebruik as deel van die verkoopspoging maar is ongelukkig nie ‘n goeie metode om entstowwe te vergelyk nie. Wat ons moet toets is of daar neutraliserende teenliggaampies is al dan nie – die toets is egter baie duur en word gewoonlik net gedoen tydens die registrasie proewe van die entstof. Sekere lewende BVD entstowwe op die mark sal na slegs ‘n enkele enting vir tot solank as 18 maande beskerming teen kliniese BVD bied. Dooie entstowwe moet gewoonlik opgevolg word met ‘n skraagdosis 2-4 weke na die eerste enting. Selfs na hierdie dubbele enting met ‘n dooie enststof kan ons slegs vir ongeveer 6-9 maande seker wees dat die dier beskerm is teen die kliniese vorm van BVD.
  • Op watter ouderdom kan ek ‘n lewende BVD entstof toedien? Tans is daar slegs een lewende BVD entstof op die mark wat reeds op dag 7 na geboorte aan die kalf toegedien kan word sonder dat die teenliggaampies afkomstig van die koei deur die kolostrum enige effek op die entstof sal uitoefen. Dooie BVD entstowwe daarenteen kan eers op 4-5 maande oorweeg word en sommige dooie entstowwe op die mark kan eers op 6-8 maande ouderdom vir die eerste keer gebruik word. Die probleem is dat sou die kalf goeie beskerming deur die kolostrum vanaf die koei ontvang teen BVD het, sal hierdie immuniteit tot ongeveer 4-5 maande ouderdom duur. Sou ons eers ‘n dooie entstof op 6-8 maande ouderdom kan gebruik kan dit gebeur dat die  jong kalf vir 2-4 maande hoogs vatbaar is vir BVD en sou die kalf aan die virus blootgestel word, kan ons seker wees dat die kalf BVD sal kry en selfs moontlik kan vrek as gevolg daarvan.
  • Wat is Tipe II BVD en moet u diere daarteen beskerm word?  BVD (Bees Virus Diarree) word deur ‘n RNA virus veroorsaak. Daar is 2 genotipes (genetiese samestelling) van BVD bekend as Tipe I en Tipe II. Die 2 genotipes verskil geneties redelik baie met slegs 66% ooreenkoms tussen die 2 genotipes. Binne in elke genotipe is daar baie verskillende stamme – die presiese aantal is onbekend maar daar kan honderde of selfs duisende stamme van BVD wees. Tipe I kom definitief in Suid Afrika voor en Tipe II is ook onlangs geïsoleer. Dit maak egter nie saak watter genotipe of stam dit is nie, die virulensie (vermoë om siekte te veroorsaak) varieer van baie hoog tot baie laag in die verskillende stamme of genotipes. By voorkeur moet ‘n entstof gebruik word wat beskerming teen tipe I en II bied. – kontak u veearts vir verdere besonderhede.
  • Is die stam in die entstof ‘n belangrike oorweging? Daar is onlangs werk gedoen in Suid Afrika waar hulle probeer bepaal het watter stamme almal hier voorkom.  Wat interessant van hierdie werk was, was die feit dat die NADL stam redelik algemeen voorgekom het. Die NADL stam word ook in een van die lewende entstowwe tans beskikbaar ingesluit en sou u hierdie entstof gebruik kan ons ‘n beskermende immuniteit na enting teen hierdie stam verwag. Die NADL stam het na inenting byvoorbeeld in proefwerk ‘n baie goeie beskerming teen een van die  mees virulente veldstamme gebied. ‘n Vraag wat u moet vra is as daar ‘n stam in die entstof gebruik word wat nie in Suid Afrika onder veldtoestande voorkom of geïdentifiseer is nie, is u nie besig om u geld te mors nie. As die maatskappy nie met u die feite met betrekking tot die stam in die entstof wil of kan deel nie, is my opinie dat u na ‘n volgende BVD entstof moet kyk
  • Hoekom vind BVD infeksies of uitbrake plaas? Diere wat nog nooit geënt was nie is hoogs vatbaar en sou hulle aan die virus blootgestel word kan ons kliniese BVD verwag – die dragtige dier loop die risiko om siek te word en ook haar kalf te verloor. In baie gevalle word BVD in ‘n kudde gediagnoseer, alle diere word geënt en dan gaan dit goed vir ‘n tydperk – enting teen BVD word nagelaat en skielik is daar weer ‘n uitbraak – dit is nie die enstof se skuld nie.
  • Beskerm BVD entstowwe op die mark eweveel teen al die vorms van BVD? Die antwoord is ongelukkig, NEE. Meeste entstowwe sal beskerming vir korter of langer periodes teen kliniese siekte bied. ‘n Vereiste van ‘n goeie BVD entstof is egter dat dit die ongebore kalf ook moet beskerm. Tans is daar slegs een lewende BVD enstof op die mark wat wel die fetus beskerm en ook keer dat permanente draers tussen dag 40 en 120 van dragtigheid in die baarmoeder gevorm word. U veearts sal graag vir u verdere inligting hieroor voorsien.
  • Hoe belangrik is die maatskappy wat die entstof vervaardig? As die volgende verteenwoordiger u besoek doen uself die guns en vra gerus die volgende vrae aan hom:
    • Hoeveel navorsing is daar gedoen oor sy maatskappy se entstowwe en nog meer belangrik hoeveel gepubliseerde artikels (in wetenskaplike joernale) kan hy aan u wys oor hulle entstof. Effektiwiteit en veiligheid van entstowwe word slegs deur gekontroleerde proewe bewys.
    • Hoeveel van die spesifieke entstof word in Suid Afrika verkoop en nog meer belangrik in die wêreld. Dit beteken in meeste gevalle niks dat ‘n entstof slegs in Suid Afrika geregistreer is nie maar nerens anders in die wêreld verkoop word nie. Dit is ook belangrik watter entstof u veearts aanbeveel – die gesondheid van u kudde is vir hom belangrik en hy sal seer sekerlik nie ‘n swakker entstof aan u aanbeveel nie.
    • Kry u werklik die ondersteuning van die maatskappy wat die entstof vervaardig op lokale en indien nodig op internasionale vlak of stel hulle slegs belang om die entstof te verkoop maar hulle wil nie ‘n verdere pad saam met u loop nie.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.