SOUTH AFRICA

Wat behels ‘n
Melkbeeskuddegesondheidsprogram?

Dr Chris van Dijk

In die verlede was dit maklik om ekonomiese besluite met betrekking tot dieresiektebeheer uit te oefen, aangesien die verliese baie groter was as om byvoorbeeld die siekte te beheer. Hier dink ons byvoorbeeld aan siektes soos runderpes en bek-en-klouseer. Tans is die situasie egter baie meer kompleks. Die kontrole en beheer van siektes soos tuberkulose en brucellose en ander areas soos mastitis en vrugbaarheidsprestasie is baie meer ingewikkeld as gevolg van verskeie faktore wat nie hier bespreek sal word nie.

Die tradisionele benadering tot plaasdier veeartsenykunde soos byvoorbeeld beskryf in James Herriot se boeke bestaan uit ongereelde noodplaasbesoeke. Veeartsenykundige optredes is primêr op versoek van die produsent en die rol van die veearts op die plaas word deur die produsent se behoeftes bepaal.

Die benadering tot melkboerdery het die afgelope twee dekades dramaties verander. Tans verskil produsente se behoeftes, wat onder andere veeartsenydienste betref, baie van die behoeftes van hulle voorgangers. Die metode wat ons as melkbeeskuddekonsultante graag volg is die van ‘n geïntegreerde kuddebenadering waar 'n dinamiese tipe epidemiologie (= Die studie van die verloop van ‘n siekte) gekoppel is aan 'n ekonomiese analise. Hierdie benadering is nodig om die aard en omvang van elke gesondheidsprobleem en ekonomiese implikasie in 'n kudde te bestudeer. Alle aanbevelings word dus gekoppel aan monetêre waardes en kontantvloeibegrotings word opgestel om die ekonomiese lewensvatbaarheid van aanbevelings te evalueer.

Die volgende definisie omskryf die term kuddegesondheid dalk beter: Kuddegesondheid is 'n beplande en gekoördineerde benadering tot 'n kudde waarby verskeie rolspelers betrokke is met optimale gesondheid, produksie, reproduksie, ekonomie, bestuur en aanwending van hulpbronne as doelwit.

Sogenaamde "brandweer" veeartsenykunde sal altyd deel van die voedseldierpraktisyn se taak bly. Baie dienste tradisioneel deur 'n veearts gelewer word egter deesdae, deur die produsent self of sy werknemers gedoen.

Met die aanvang van ‘n kuddegesondheidsprogram moet daar 'n volledige plaasprofiel met die eerste besoeke opgestel word. Hierdie plaasprofiel dien as hulpmiddel om spesifieke probleme op 'n plaas te identifiseer. Vanuit laasgenoemde word 'n korrekte program dan geformuleer met die behoefte, probleme en prioriteite op die spesifieke plaas as riglyne.

Dit is na my mening uiters belangrik by aanvang van 'n program om presies te weet waar die boer hom bestuursgewys en ekonomies bevind. Daarsonder sal dit onmoontlik wees om mikpunte te stel, te implementeer en te evalueer. Daar behoort ook ‘n vertrouensverhouding tussen die produsent en die veearts te bestaan sodat alle syfers met betrekking tot die melkery as bedryfstak beskikbaar sal wees. Vanuit hierdie syfers kan ook weer verskeie kritiese besluite geneem word.

Om 'n kuddegesondheidsprogram te implementeer en te evalueer is betroubare rekords van kardinale belang. Reeds met die eerste gesprekke met die produsent word hierdie aspek in detail behandel. Sonder rekords kan geen vordering gemeet word nie.

In die kuddes waar die kuddebestuursprogram ten volle geïmplementeer word, word aan die volgende aspekte aandag gegee:

Produksie: Alle produksiedata moet aangeteken en verwerk word as indekslyste. Vanaf hierdie indekslyste kan grafiese voorstellings van onder andere die melkproduksie, somatiese seltellings en plaattellings, persentasie bottervet en proteïne gemaak om enige tendense dadelik waar te neem.

Uiergesondheid: ‘n Volledige uiergesondheidsprogram moet toegepas word. In so ‘n program behoort die voorkoming van nuwe infeksies, die verwydering van bestaande infeksies en die monitering van die vordering in die uiergesondheidsprogram aandag te geniet. Behalwe die gereelde monitering van die somatiese seltelling moet daar in samewerking met ‘n laboratorium ook op gereelde basis melkmonsters versamel word vir die evaluasie van die uiergesondheidsstatus. Terselfdertyd word die melktegnieke en alle ander omgewingsfaktore wat moontlik tot mastitis kan aanleiding gee geëvalueer. Rekenaarmodelle kan gebruik word om die ekonomiese verliese ten opsigte van kliniese en subkliniese mastitis te illustreer.

Reproduksie: Reproduksie is en bly een van die belangrikste boustene in enige kuddegesondheidsprogram. Gereelde besoeke word aan die plaas gebring vir die meer tradisionele sogenaamde dragtigheidsondersoeke. Daar is verskeie maatstawwe om vrugbaarheidsprestasie in en tussen kuddes te vergelyk wat nie hier bespreek sal word nie.

Voeding: Voedingskoste in 'n melkery is ‘n groot gedeelte van kostes maar dit is ook so dat optimale voeding 70% plus bydra tot die sukses van ‘n melkery. 'n Volledige evaluasie van die voedingstelsel, samestelling van die voer, gereelde ontledings van die voer en evaluasies van alle aspekte wat moontlik met die voer en voedingsstelsel verband mag hou moet op 'n gereelde basis gedoen word. Indekslyste kan ook weer hier as hulpmiddel gebruik word om enige tendense voortydig waar te neem.

Algemene kuddegesondheid: Wat algemene kuddegesondheid betref moet daar onder andere aandag geskenk word aan immunisasie- en doseringsprogramme, TB en CA toetse, vliegbeheer en vitamien- en mineraal-aanvullings. Gereelde evaluasies van uitskotdiere by ‘n abattoir moet ook gedoen word.

Seleksie en teling: Met seleksie en teling word verskeie hulpmiddels gebruik soos onder andere die rekords van die produsent self en melkaantekeningrekords. Die telersvereninging van die spesifieke ras asook genetici speel ook 'n rol in die bepaling van die spesifieke teelbeleid vir die spesifieke produsent. Aanbevelings word in samewerking met sekere persone gedoen ten opsigte van die teelbeleid (genotipies en fenotipies).

Vervangingsverse: By vervangingsverse, wat die toekomstige kudde sal wees, moet daar in detail aandag gegee word aan bestuur, behuising en voeding. Groeikurwes (massa en skofhoogte) dien ook as 'n hulpmiddel in die evaluering van veral die voeding van die verse. Hierdie kurwes word ook grafies voorgestel. Rekenaarmodelle kan ook in die ekonomiese evaluasie van die grootmaak van die vervangingsverse gebruik word. Met hierdie model word die voeding van die vers met die aanbevole standaarde vergelyk. Die grootmaakkoste vir 'n vervangingsvers vanaf haar geboorte tot sy weer kalf word ook bepaal.

Uitskot: 'n Volledige uitskotbeleid behoort ook vir die produsent geformuleer te word. Geforseerde uitskot as gevolg van swak vrugbaarheid, mastitis, beserings en ander siektes behoort minder as 10 % per jaar te wees. Selektiewe uitskot as gevolg van uierkonformasie, voete en bene, melktempo en lae produksie behoort minder as 15% te wees. Die ekonomiese uitskot van diere kan ook met behulp van 'n rekenaarmodel bepaal word.

‘n Kuddegesondheidsprogram wat die optimum opbrengste vir die produsent verseker is ‘n dinamiese program. Daar is egter ‘n sikliese element by so ‘n program betrokke, wat gereelde aanpassings en verfynings in programontwerp, implementering, monitering en evaluasie insluit. Dit is my mening dat die veearts en produsent albei betrokke moet wees by ‘n uitdagende, interaktiewe probleem oplossende proses wat winsgewend vir u as produsent kan wees.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.