SOUTH AFRICA

DIE EKONOMIESE EFFEK VAN BVD IN ‘N MELKKUDDE

Chris van Dijk   MMedVet (BOV)

Diarree en mukosasiekte is twee van die kliniese manifestasies van ‘n reeks kliniese en patologiese toestande wat geassosieer word met die BVD virus. BVD kom wydverspreid in tot 90% van melk- en vleisbeeskuddes in Suid Afrika voor en die effek van die virus hang grootliks af van die immunologiese status van die kudde maar ook van die dragtigheidstatus van BVD sero- negatiewe diere wat blootgestel word aan die virus.

BVD word deur ‘n RNA virus veroorsaak waarvan daar twee tipes in die natuur voorkom, naamlik Tipe 1 en Tipe 2. Hierdie is verskillende genotipes en binne in hierdie groepe is daar baie verskillende stamme wat baie verskil in virulensie. Dit maak egter nie saak watter genotipe of stam van die virus in ‘n kudde teenwoordig is nie, indien die diere nie daarteen beskerm is nie, sal reproduksieverliese, vrektes en verskeie ander siekte syndrome in ‘n kudde voorkom.

Vatbare diere wat blootgestel word aan die virus word in baie min gevalle klinies siek en wys min simptome. Ander weer mag ‘n baie hoë temperatuur toon of selfs ‘n afname in melkproduksie. Soms mag diere ulsers in hulle bekke ontwikkel. Sommige diere sal ‘n diarree toon. Dragtige diere mag aborteer enige iets tussen 1 en 8 maande na blootstelling. Kliniese simptome in kalwers sal varieer van diarree tot pneumonie maar die mees belangrikste effek in kalwers is die onderdrukking van die imuunstelsel.
Die BVD virus word uitgeskei in die mis, uriene en speeksel en kan deur die kos, water of selfs deur die lug na die volgende dier versprei word. Kortstondige kontak tussen diere, selfs by die grensheining is ook ‘n manier van oordraging. 

Die BVD virus het die vermoë om te muteer. Die feit behoort egter vir geen verantwoordelike melkprodusent ‘n probleem te wees nie, aangesien ‘n gestruktueerde biosekuriteitsprogram om BVD te voorkom die antwoord op die produsent se vrese oor die siekte is.

‘n Baie hoë persentasie van ongeënte diere in Suid Afrika is teenliggaam positief – dit beteken dat hulle op een of ander tyd blootgestel was aan die virus. Daar was dus ‘n immuunreaksie en die dier het ‘n moontlike weerstand opgebou teen daardie een spesifieke stam waaraan hulle blootgestel was. Hierdie immuniteit mag dalk beskerming bied teen die spesifieke stam indien die diere weer later daaraan blootgestel word. Die vlak van kruisimmuniteit teen ander veldstamme is onbekend. Deur ‘n strategiese en ‘n effektiewe immunisasieprogram word die versekering verkry dat al die diere ‘n gekontroleerde blootstelling aan ‘n bekende stam van die virus kry waarvoor daar bewyse is dat dit wel kruisimmuniteit stimuleer.

Fetale blootstelling aan die BVD virus tussen dekking en dag 40 van dragtigheid sal lei tot afsterwe van die fetus met ‘n gevolglike resorpsie. Permanente draers ontstaan sou die fetus tussen dag 40 en 120 van dragtigheid aan die nie-sitopatiese biotipe virus blootgestel word. Sou die fetus oorleef word hulle gebore as draerdiere en is verantwoordelik om die virus na ander vatbare diere te versprei. Hierdie draerdiere kan moontlik in die eerste jaar na geboorte as gevolg van een of ander siekte vrek maar kan ook lank in ‘n kudde bly. Veral bulle wat draers is sal elke keer wat hulle ‘n koei dek die virus ook met die semen oordra.  

Dit word geskat dat tot 65% van Suid Afrikaanse kuddes een of meer draer diere in die kudde het. Gemiddeld sal daar 1% - 2% draerdiere in ‘n kudde wees maar sommige kuddes het selfs soveel as 10% draer diere.

DIE KOSTE VAN BVD

  1. Nasionale Koste

Die jaarlikse koste van BVD in die Suid Afrikaanse vee industrie is nog nooit bepaal nie. In Engeland kos dit die industrie enigiets van £32 tot £120 miljoen per jaar. Met verwysing na meegaande spreivel kos BVD die Suid Afrikaanse suiwelindustrie enigiets tussen R6 en R40 miljoen rand per jaar. (Meer detail oor die spreivel volg later in hierdie bespreking)

  1. Koste vir individuele produsente

In 1983 is dit al bereken dat ‘n uitbreek van BVD in ‘n kudde van 67 koeie die produsente enigiets van £2295 tot £4115 gekos het. Verliese was as gevolg van 2 aborsies, 2 doodgebore kalwers, 3 kalwers met kongenitale defekte, 2 kalwers wat swak gedoen het, 2 mukosasiekte gevalle en 6 permanente draers wat geslag is.
Volgens meer onlangse bronne (1996) in Engeland beloop die totale jaarlikse koste van BVD infeksie in ‘n kudde van 100 koeie gemiddelde £6314.

EPIDEMIOLOGIE

  1. Populasie risiko

Alle diere van alle ouderdomme is vatbaar vir BVD infeksie. Sekere groepe diere en die siektesindrome in daardie groep diere mag lei tot groter ekonomiese verliese (vergelyk jong kalwers teenoor dragtige verse of koeie).

  1. Voorkoms en insidens van BVD virus infeksie
    1. Voorkoms

Opnames in ‘n sekere area in Suid Afrika in 1994 het getoon dat soveel as 89.8% diere seropositief is in 14 kuddes wat in die opname getoets is. (Dr M Ferreira, MMedVet Verhandeling) Latere opvolg toetse en data ge-evalueer van laboratoria wat hierdie toetse doen het aangetoon dat hierdie tendens feitlik regoor die land waargeneem word.

  1. Insidens van BVD virus infeksie

In lande soos Denemarke is die risiko dat ‘n negatiewe kudde met BVD besmet kan raak tussen 34 en 52%. Weereens is daar nie ‘n syfer vir Suid Afrika beskikbaar nie maar die groter persentasie is seker die meer waarskynlikste veral as gevolg van min of geen biosekuriteitsmaatreëls wat op ons plase bestaan nie en die huidige tendens van kleiner melkkuddes wat uitverkoop en groter kuddes wat hierdie diere aankoop sonder om diere te isoleer of te toets voor hulle in ‘n kudde ingebring word. 

  1. Voorkoms van Permanent Besmette (PI) diere

As daar ‘n groot persentasie seropositiewe diere in ‘n kudde is, is die waarskynlikheid baie groter dat daar ook ‘n PI dier in so ‘n kudde sal wees. Studies in Engeland en Denemarke het getoon dat soveel as 65% van kuddes een of meer PI dier in ‘n kudde het. Laboratorium verslae in Suid Afrika toon dat soveel as 75% van kuddes een of meer PI dier mag hê. Die aantal PI diere varieer van 1% - 2% veral as die siekte reeds ‘n geruime tyd in ‘n kudde is – soms word selfs soveel as 10% PI diere in ‘n kudde gevind.
 

  1. Die effek van die Siekte
  1. Infeksie van nie-dragtige beeste (akute BVD)

Infeksie van vatbare nie-dragtige koeie is gewoonlik sub-klinies. Akute enteritis met mortaliteite en ‘n aansienlike val in melkproduksie is ook al waargeneem. Die voorkoms van akute uitbreke in ander areas in Suid Afrika is onbekend (Die outeur was persoonlik by 3 sulke kuddes betrokke). Teoreties sal slegs 40% van die 5%-10% BVD negatiewe kuddes (naïwe kuddes) akute uitbreke ervaar

  1. Mortaliteit/Voortydige uitskot

Mortaliteit in ‘n akute uitbreek van BVD kan varieer van 1,8 tot 10,4% (Gemiddeld 5%). Tot soveel as 11% (Gemiddeld 8%) koeie met ‘n akute uitbreek word voortydig as gevolg van vermaering en reproduksieprobleme uitgeskot.

  1. Melkverliese

Met akute kliniese BVD uitbreke sal die melkproduksie met soveel as 20-25% val vir tot ongeveer 14 dae na die uitbraak. Die tyd vir ‘n koei om haar melkproduksie te herstel tot dieselfde as voor die uitbraak is nog nooit bepaal nie. Indien ons aanvaar dat 30% (morbiditeit) van diere se melk met 20% val oor ‘n 3 weke periode sal ons ‘n 1,4% val in melkproduksie per laktasie hê.

  1. Akute BVD infeksie van vatbare kalwers

Kalwers akuut besmet met BVD mag ‘n verhoogde vatbaarheid vir ander siektes soos longontsteking toon maar die effek is nog nooit gekwantifiseer nie.

  1. Infeksie van vatbare dragtige diere
    1. Onvrugbaarheid

Infeksie van vatbare diere rondom inseminasie en konsepsie mag aanleiding gee tot ‘n betekenisvolle afname in konsepsietempo wat manifesteer as ‘n afname in dragtigheid of kalwingspersentasie. Tot soveel as 60% van reproduksieverliese as gevolg van BVD infeksie vind in hierdie periode plaas.

  1. Aborsies en doodgebore kalwers

Baie min (< 1%) aborsies as gevolg van BVD word in laboratoriums gediagnoseer. Hierdie syfer mag egter baie hoër wees as die fetale materiaal altyd beskikbaar is en die laboratorium betyds bereik word (en as daar getoets word daarvoor).

  1. Voortydige uitskot as gevolg van swak reproduksie

Hierdie persentasie sal waarskynklik hoog wees maar is ook weereens nog nie in Suid Afrika bepaal nie.

  1. Kongenitale Defekte

Geen ekonomiese data is beskikbaar vir die persentasie diere wat gebore is met kongenitale defekte as gevolg van BVD nie.

  1. Geboorte van swak nie PI diere nie

Infeksie na dag 120 van dragtigheid met BVD mag lei tot aborsies maar ook tot die geboorte van swak nie PI kalwers. Geen data is beskikbaar oor die mortaliteit en groeitempo van hierdie kalwers nie.

  1. PI diere
  • Mortaliteit en voortydige uitskot

Permanent besmette diere mag vrek as gevolg van mukosa siekte of word uitgeskot as gevolg van swak groei. Hierdie diere sal ook meer geneig wees tot ander siektes as gevolg van verlaagde immuniteit in die algemeen. Navorsing het getoon dat soveel as 50% permanent besmette gebore diere vrek voor hulle een jaar oud is.

  1. BEHEER VAN BVD

Die volgende metodes word tans toegepas en die ekonomie van hierdie metodes moet vergelyk word met die verliese met BVD infeksies in kuddes.

  • ‘n BVD biosekuriteitsprogram met die volgende boustene:
    • Strategiese en effektiewe immunisasie teen BVD
    • Hou die kudde geslote (toets alle nuwe diere vir BVD voordat hulle met die res van die kudde meng)
    • Identifiseer alle draer diere en laat onmiddellik slag
  • “Immuniseer” alle diere deur hulle bloot te stel aan BVD draers met geen verdere optrede nie.
  • Aanvaar BVD is deel van boerdery en “Doen niks nie”

Beide die laaste twee metodes is uiters riskant en die produsent is steeds uitgelewer aan die gevolge van BVD en groot ekonomiese verliese.

  1. EKONOMIESE VERLIESE – SIMULASIE

‘n Simulasie van verliese kan met behulp van meegaande spreivel gedoen word.
Verskeie aannames word gemaak vir lae teenoor hoë risiko kuddes:

  • ‘n Lae Risiko kudde vir BVD
    • Een of meer van die biosekuriteit maatreëls soos immunisasie, die kudde is geslote of toets vir draers word wel toegepas teenoor
  • ‘n Hoë Risiko kudde vir BVD
    • Geen biosekuriteit maatreëls word toegepas nie, of
    • Dit was toegepas en het weer agterweë begin bly (veral immunisasie word nie jaarliks opgevolg nie of die “verkeerde” entstof word gebruik). Meeste entstowwe beskikbaar sal beskerming vir korter of langer periodes teen kliniese siekte bied. ‘n Vereiste van ‘n effektiewe BVD entstof is egter dat dit die ongebore kalf ook moet beskerm.

Met verwysing na die letters (A tot Z) in die meegaande spreivel word daar in die volgende tabel ‘n verdere verduideliking gegee hoe die verliese met BVD bepaal word.


Verwysing

Invoer in spreivel plus agtergrond inligting

A

Die aantal koeie in melk in ‘n kudde word hier ingelees

B

Die melkprys word hier ingelees

C

Die Laag en Hoog verwys na lae en hoë risiko kuddes spesifiek vir BVD. Verwys na punt 5 hierbo 

D

Indien ons sou aanvaar dat 95% van diere in Suid Afrika teenliggaam positief is, is daar dus 5% van diere wat wel vatbaar is vir BVD en dat 30-50% hiervan sal lei tot kliniese gevalle. Dit gee ‘n lae jaarlikse insidens van 5% x 30% = 1,5% of ‘n hoë jaarlikse insidens van 5% x 50% = 2,5%

E

Indien ons aanvaar dat in 30% van kliniese gevalle daar ‘n 20% melkverlies oor ‘n 3 weke periode met akute BVD infeksie is sal ons 21/305 x 20% = 1,4% verlies in jaarlikse melkproduksie per geaffekteerde koei hê. Dit word dan bereken met gemiddelde melkproduksie en melkprys as deel van die formule 

F

‘n Aanname is dat ongeveer 2% koeie per jaar aborteer waarvan so min as 0,5% en soveel as 10% as gevolg van BVD is.

G

Mortaliteite van volwasse melkkoeie in verskillende studies in besmette kuddes varieer van 0,5% tot 10%

H

Voortydige uitskot van volwasse melkkoeie in verskillende studies het gevarieer van 2% tot 11%

J

Lae skattings is dat 0,5% van alle jong diere binne die eerste jaar na geboorte vrek as gevolg van BVD. Hoë skattings is dat 2% van alle jong diere vrek binne die eerste jaar na geboorte van BVD. Hierdie waardes aanvaar verder dat 1% - 4% van alle diere as BVD draers (permanent besmet) gebore word.

K

Die kudde se gemiddelde melkproduksie word hier ingevoer

L

Met ‘n aborsie word ‘n gemiddelde verlies van 28% in melkproduksie per jaar aanvaar. Hierby word getel die verlies van die kalf plus KI en veeartskoste. Die waardes in M, N en P het dus ‘n effek op hierdie syfer 

M

Afhangende van die genetika sal hierdie syfer laer of hoër kan wees

N

Hierdie is die koste van ‘n ekstra KI om die koei weer dragtig te kry. 

P

Hierdie is die geskatte koste vir die veearts om die geaborteerde koei te ondersoek en te behandrel

Q

Hierdie is die gemiddelde waarde van ‘n koei sou sy in laktasie verkoop kon word

R

Hierdie is die gemiddelde koste om ‘n vers groot te maak vanaf geboorte tot sy die  eerste keer kalf

S

Hierdie is die gemiddelde prys wat sou realiseer sou die koei vir slagdoeleindes uitgeskot is

T

Hierdie is die waarde vir vervanging (R) minus uitskotwaarde (S) minus 25% vir swakker kwaliteit karkas  

U

Hierdie is die waarde in R gedeel deur 2 (aanvaar die verse kalf die eerste keer op 24 maande)

V

Hierdie is die koste om elke dier op die plaas eenkeer per jaar te immuniseer

W

Hierdie is die totale aantal diere vermenigvuldig met V

X

Hier word die totale verliese soos bereken vir ‘n lae en ‘n hoë BVD risiko kudde weergegee

Y en Z

Hier word die koste voordeel om BVD te beheer met behulp van ‘n entstof bereken. Hoe meer negatief die antwoord is hoe meer koste voordelig is dit vir produsente om wel ‘n entstof op ‘n jaarlikse basis te gebruik

Die berekende verliese in ‘n lae BVD risiko kudde is R1007.00 per jaar teenoor ‘n berekende verlies van R6450.00 in ‘n 100 koei kudde met ‘n hoë risiko van BVD. Soos reeds voorheen genoem val die meeste Suid Afrikaanse kuddes in laasgenoemde hoë risiko kategorie (persoonlike mening van outeur).

Eerste indrukke kan dus wees dat dit onekonomies is om te immuniseer – die koste nadeel is plus R165.98 (Verwys na Y in die spreivel) maar in die kudde met die hoë risiko is die koste voordeel R5277.13 (Verwys na Z in die spreivel) nadat die koste van die entstof ook in berekening gebring is. Die lae insidens kudde sal egter weer ‘n hoë risiko kudde raak sou al die biosekuriteitsmaatreëls nie altyd in plek wees nie.

Met hierdie simulasie is daar dus na my mening geen rede hoekom alle melkprodusente nie elke jaar hulle kuddes moet immuniseer teen BVD nie.

U is welkom om die skrywer direk te kontak vir verdere inligting of verwysings by 011 245 3300.

Disclaimer: Zoetis takes no responsibility for any claims that may arise from information contained in this information sheet. Individual situations may vary from location to location and it is recommended that you consult your veterinarian before any management or treatment decisions are implemented.

Vrywaring: Zoetis neem geen verantwoordelikheid vir enige eise wat mag voortspruit uit inligting vervat in hierdie inligtingsdokument. Individuele situasies varieer van plek tot plek en dit word voorgestel dat u eers u veearts kontak alvorens enige bestuurs- of behandelingsbesluite geïmplementeer word.